God se Rusdag
In die vorige gedeelte oor God se feeste het ons gesien dat God al Sy feeste vir ons uiteensit in Levitikus 23. God begin egter hierdie uiteensetting deur opdrag te gee oor Sy weeklikse fees, die sewende dag, die sabbat.
Lev 23: 1 – 3 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye. Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is ‘n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.
Hierdie is natuurlik nie die eerste uitroep van hierdie heilige (afgsonderde) rusdag en vierdag nie. Nee, ons kan verder teruggaan in tyd en sien dat God die viering van hierdie heilige dag reeds vroeër aangekondig het. Ons sien dit in Eksodus toe God die tien gebooie aan Sy mense gegee het, aan die hand van Moses, nadat Hy hulle uit Egipte (die huis van slawerny) verlos het.
Eks 20: 8 – 11 Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Hierdie is uit die aard van die saak ook nie die eerste uitroep van hierdie heilige (afgesonderde) rusdag en vierdag nie. Nee, in Eksodus 20 herhaal God Sy aanvanklike uitroep van hierdie heilige dag en herhaal Hy ook die oorspronklike motivering vir die onderhouding van hierdie dag. Die motivering vir die klassifikasie van hierdie dag as spesiaal en anders (as die ander dae) is die ewige waarheid dat God die hemel en die aarde, en alles daarin, in ses dae gemaak het en op die sewende dag gerus het. Ons kan dus teruggaan tot by die begin toe God alles geskape het.
Gen 2: 1 – 3 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
Hierdie instelling van God, om die sewende dag te seën, dit te heilig (af te sonder), en daarop te rus, is niks anders as ‘n skeppingsinstelling! Dit kan nie verander word nie; dit staan vas. God sê letterlik, “Ek maak so, maak julle nou ook so.” Geen wonder dan dat God hierdie saak wil tuisbring deur dit drie keer te herhaal nie. In die Christendom val hierdie ‘heilige vierdag’ saam met Sondag. Ek sit dit in aanhalingstekens want dit is alles behalwe ‘n heilige vierdag. Alhoewel dit die dag is waarop mense kerk toe gaan, is die malls oop, groot sportbyeenkomste vind plaas op ‘n Sondag, en is dit ‘n dag van werk en geld verdien. Dit mag dalk vir sommige as ‘n verrassing kom, maar Sondag is nie die sewende dag van die week nie. Nee, Sondag is die eerste dag van die week; Saterdag is die sewende dag van die week, die sabbat, soos wat Jesus dit gehou het, in lyn met Sy Vader se Woord. Die beskouing en/of oortuiging dat Sondag ‘n heilige/afgesonderde dag is, is maar net nog ‘n verdraaiïng van God se Waarheid/Woord. Dit is nie God se heilige rusdag en vierdag nie. Hierdie gebod is verander deur die mens (meer hieroor in die aangehegde boek). Ek daag jou uit – gaan soek in die Woord van God daardie plek, of Skrif, waar God die sewende dag ‘ontseën’ en ‘ontheilig’ met die oog daarop dat dit verval het en nie meer as ‘n feesdag/vierdag onderhou hoef te word nie. Dit is gewoon nie daar nie, want God gaan nie terug op Sy Woord nie.
In Levitikus 23 groepeer God die sewende dag as ‘n feesdag saam met die ander sewe jaarlikse feeste. In die vorige gedeelte het ons gesien hoe elkeen van die feeste van God heenwys na ‘n vervulling, deur Jesus, en maak dit deel uit van die Evangelie van God. Net so is die sewende dag, as ‘n feesdag, ‘n heenwysing na ‘n toekomsgebeurtenis of, eerder, ‘n toekomstige tydvak. Deur hierdie dag weekliks te onderhou, gehoorsaam ons nie net ons Vader se gebod nie, maar proklameer ons hierdie baie spesiale toekomstige tydvak. Petrus maak dit vir ons duidelik dat een dag vir God soos ‘n duisend jaar is en ‘n duisend jaar soos een dag.
2 Pet 3: 8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.
Ook die psalmskrywer koppel ‘n duisend jaar aan ‘n dag.
Ps 90: 4 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.
Hierdie is nie net simbolies nie, nee, dis ook letterlik. Alhoewel tyd vir God nie bestaan soos wat dit vir ons ‘n werklikheid is nie, het hierdie ‘n dieper betekenis. Daar is sewe dae in ‘n week en as ons elke dag gelyk stel aan ‘n duisend jaar dan is dit ‘n totale tydsverloop van sewe duisend jaar. In die vorige gedeelte oor God se feeste, het ons gesien dat van Adam tot Abraham ongeveer twee duisend jaar verloop het, van Abraham tot Jesus het ook ongeveer twee duisend jaar verloop, en van Jesus tot nou is dit weer ‘n twee duisend jaar periode. Van Adam tot nou is gevolglik ‘n totaal van ses duisend jaar. Die sewende duisend-jaar-periode (in ooreenstemming met die sewende dag van die week) is op die punt om aan te breek. Oor die betekenis van hierdie sewende duisend-jaar-periode lees ons in die Openbaring wat Johannes ontvang het.
Opb 20: 1- 6 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Hierdie sewende duisend-jaar-periode (in ooreenstemming met die sewende dag van die week) is ‘n periode van rus saam met Jesus waartydens die duiwel gebind is en hy mense of nasies nie kan verlei soos wat hy gedoen het in die voorafgaande ses duisend jaar (of ses dae) nie. Deur weekliks die sewende dag te heilig en te vier (net soos God), proklameer ons in die gees dat ons in ooreenstemming is met die Woord van God en dat ons uitsien na ons tyd saam met Jesus op die ‘ultimate’ rusdag, die duisend jaar vredesryk op aarde. Hou ons hierdie dag nie, dan het ons geen proklamasie in die gees nie. Na die sewende dag breek die agtste dag, die ewigheid, aan; soos wat ons gesien het hoe dit deel uitmaak van die Loofhuttefees (in die gedeelte oor God se feeste). God se tydsverloop is perfek en die keuse lê by onsself of ons in lyn wil kom met Sy perfekte plan en tydsverloop, en of ons deel wil uitmaak van ‘n ander plan of tydsverloop.
God het in die eerste plek die sewende dag vir Homself geseën en geheilig/afgesonder en deur hierdie dag afgesonder te hou en dit te vier kom ons in lyn met God, nie Hy met ons nie. Hy sal nooit in lyn kom met die mens en sy verdraaide waarhede/gebooie nie; Jesus maak dit baie duidelik.
Mat 15: 8, 9 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
Mat 5: 17 – 19 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.
Hierdie Woord van Jesus lei tot ‘n baie, baie belangrike vraag wat ons vir onsself moet beantwoord, “Aan wie moet ons eerder gehoorsaam wees, aan God of aan mense?” Daar was by die dissipels geen twyfel omtrent hierdie vraag nie. Toe die Fariseërs en Skrifgeleerdes hulle verbied het om die mense van Jesus te leer, nadat hulle alreeds in die tronk gegooi was daaroor, het hulle so geantwoord:
Hand 5: 28, 29 Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
Ongehoorsaamheid aan hierdie Waarheid maak die deur oop vir die vyand, die duiwel, om in te kom en te verskeur en te verslind. Ongehoorsaamheid aan hierdie Waarheid het dodelike gevolge, of dit nou fisies of geestelik is, en die dissipels het dit geweet. Ons sien ‘n voorbeeld hiervan opgeskryf in die boek 1 Konings, toe God ‘n profeet gestuur het om Jeróbeam, die eerste koning van die tien noordelike stamme (die huis van Israel), te waarsku toe hy ongehoorsaam was teen die gebooie van God.
1 Kon 12: 26 – 13: 21 En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin, honderd en tagtig duisend strydbare jong manskappe, vergader om oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die seun van Salomo, terug te win. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê: So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en weer teruggetrek volgens die woord van die HERE. En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou. En Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid terugkeer: as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die HERE in Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na Rehábeam, die koning van Juda. Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem—hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het! En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel. En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid tot by Dan. Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie. En Jeróbeam het ‘n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het. En hy het geklim op die altaar wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Israel ‘n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te laat opgaan. Toe kom daar ‘n man van God uit Juda deur die woord van die HERE in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan; en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word. En hy het dieselfde dag ‘n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die HERE gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word. En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword, sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie. En die altaar is uitmekaargeskeur, en die as is van die altaar afgegooi volgens die wonderteken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die HERE. Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van die HERE jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die HERE om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was. Daarop sê die koning aan die man van God: Kom met my saam huis toe en versterk jou, en laat ek jou ‘n geskenk gee. Maar die man van God sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie. Want so het die HERE my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie. Hy het toe met ‘n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Bet-el gekom het nie. En daar het ‘n sekere ou profeet in Bet-el gewoon; en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Bet-el gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gespreek het. En toe hulle dit aan hul vader vertel, sê hul vader vir hulle: Met watter pad het hy gegaan? Want sy seuns het die pad gesien waarmee die man van God weer weg is wat uit Juda gekom het. Toe sê hy aan sy seuns: Saal vir my die esel op. En hulle het vir hom die esel opgesaal, en hy het daarop gery. En hy het agter die man van God aan gegaan en hom aangetref terwyl hy onder die terpentynboom sit; en hy sê vir hom: Is jy die man van God wat uit Juda gekom het? En hy antwoord: Ja. Toe sê hy vir hom: Gaan met my saam huis toe en eet brood. Maar hy antwoord: Ek kan nie met jou saam omdraai of met jou saam ingaan nie; ek mag ook nie brood eet of met jou saam water in hierdie plek drink nie; want aan my is gesê deur die woord van die HERE: Jy mag daar geen brood eet of water drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie. Maar hy sê vir hom: Ek is ook ‘n profeet net soos jy, en ‘n engel het met my gespreek deur die woord van die HERE en gesê: Bring hom terug saam met jou na jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink. Hy het vir hom gelieg. Toe het hy met hom saam omgedraai en in sy huis brood geëet en water gedrink. Maar terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die HERE tot die profeet wat hom laat omdraai het; en hy het die man van God wat uit Juda gekom het, toegeroep en gesê: So spreek die HERE: Omdat jy wederstrewig was teen die mond van die HERE deur nie die gebod te hou wat die HERE jou God jou beveel het nie, maar omgedraai en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy aan jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie—daarom sal jou lyk nie in die graf van jou vaders kom nie. Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op—vir die profeet wat hy laat omdraai het— en hy gaan weg; toe kom ‘n leeu hom teë op die pad en maak hom dood.
Hierdie is ‘n baie belangrike waarskuwing vir elkeen van ons. Nie net was die koning ongehoorsaam deur goue kalwers as gode op te rig en ‘n feesdag in te stel anders as dié van God nie, maar die man van God was ook ongehoorsaam deur ‘n leuen te glo en so af te wyk van die gesproke Woord van God. Ons moet aan God gehoorsaam wees, eerder as aan mense. Ons kan nie eendag voor God staan en as verskoning aanvoer dat daar vir ons gelieg is nie, nee, die gevolge is dieselfde. Of ons nou wetend of onwetend God se gebooie oortree, die uiteinde is dieselfde – ons is nie in lyn met God se Woord, Sy Wil, en Sy Weg nie. As ons op ‘n ander weg is, die weg van die wêreld, dan het ons probleme, en rig Salomo vir ons hierdie belangrike waarskuwing:
Spr 14: 12 en 16: 25 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
Dit was dan ook so vir die man van God – die ‘weg’ wat aan hom gekommunikeer is, nie deur God nie, het vir hom reg gelyk, want dit is aan hom gekommunikeer in ‘opregtheid’ (so het hy gedink), maar die uiteinde daarvan was ‘n weg van die dood. Beantwoord die volgende paar vrae vir jouself in alle eerlikheid. Kan ons teruggaan op die Woord wat God tot ons gespreek het? Kan ons ‘n ander ‘woord’ aanneem wat deur mense gespreek word? Ken jy die Woord van God goed genoeg om te kan onderskei wanneer daar vir jou gelieg word, of wanneer die Waarheid verdraai word? As daar by ons egter ‘n gebrek aan kennis van God se Woord is sal ons sal die leuen, die verdraaide waarheid, glo, en so teruggaan op die Woord van God.
Hos 4: 6 My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, …
Wanneer ons ongehoorsaam is aan die Woord van God, dan gee ons die vyand (die duiwel) wetlike reg om in te kom, te verskeur en te verslind; net soos die man van God wat langs die pad deur ‘n leeu gedood is omdat hy ‘n ander ‘woord’ geglo het as die Woord van God.
1 Pet 5: 8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
Die profeet (die man van God) is doodgemaak op die pad deur ‘n leeu as gevolg van sy ongehoorsaamheid aan die Woord van God. Net so, vandag nog, lê en wag die duiwel, soos ‘n leeu, om te verslind. Die gehoorsaamheid van verdraaiïde waarhede, of dit nou rondom God se feeste is, rondom Sy rusdag, of enige ander gebod van God, dit het gevolge. Ons is wesens met ‘n vry wil – ons kan kies; óf ons gehoorsaam die gebooie van God, óf ons gehoorsaam die gebooie/leringe van mense. Hierdie keuse wat ons uitoefen het gevolge; onthou Jesus se waarskuwings.
Joh 3: 36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Om te glo is om gehoorsaam te wees; ons kan nie glo en ongehoorsaam wees nie.
Mat 7: 21 – 23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Wanneer ons glo in God, en in Sy Seun, dan sal Sy wil ons weg word en sal ons op daardie weg wandel in gehoorsaamheid en in geloof. Dit kan nie anders nie.