God se Naam

Wat steek in ‘n persoon se naam? Is die naam van ‘n persoon belangrik? Dra die naam van ‘n persoon enige gewig? Elkeen van hierdie vrae kan in die positiewe geantwoord word; ja, daar steek baie in ‘n persoon se naam, die naam van ‘n persoon is baie belangrik, en dit dra baie gewig. Bevestiging hiervan vind ons by wat die God van die hemel en die aarde van hierdie saak dink en hoe Hy hierdie saak benader. Hy het Abram, Saraï, Jakob en Saulus se name almal verander; Abram se naam het Hy verander na Abraham, Saraï se naam het Hy verander na Sarah, Jakob het Hy gesê sal Israel genoem word, en Saulus se naam het Hy verander na Paulus. Hy sou dit nie gedoen het as daar nie iets steek in ‘n persoon se naam nie, as dit nie belangrik is nie, en as dit geen gewig dra nie. Net so is Sy eie Naam ‘n saak wat vir Hom baie belangrik is en daarom dan dat Hy ‘n gebod daaromtrent gegee het as deel van die Tien Gebooie.

Eks 20: 7 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Ons gaan later terugkeer na hierdie gebod waartydens ons na die volle betekenis van hierdie gebod gaan kyk.

Wees baie eerlik met jouself en beantwoord die volgende vraag vir jouself – is die Naam van God vir jou belangrik, is dit vir jou ‘n saak van erns? Indien jy ‘n intieme en persoonlike verhouding met God het (en Hy met jou), is dit nie dalk Sy begeerte dat jy Sy Naam moet ken en Hom op Sy Naam moet noem nie? Kom ons stel dit so, is die Naam van God belangrik volgens God self, volgens Sy Woord? In die bekende Ps 91, wat handel oor die beskerming wat God bied aan dié wat Hom liefhet, is Hy baie duidelik oor hierdie saak.

Ps 91: 14 Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

Hierdie beskerming weens die Naam van God word vir ons bevestig deur Salomo in die boek van Spreuke.

Spr 18: 10 Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.

God het dit baie duidelik gemaak dat Sy Naam oor die hele aarde verkondig moet word, omdat Hy wil hê dat ALMAL Sy Naam moet ken. God het nie die mens geskape sodat hulle ‘n naamlose verhouding met Hom moet hê nie.

Eks 9: 13 – 16 Verder het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie. Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het; maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.

Dit is God se wil dat Sy Naam oor die hele aarde verkondig moet word. Dawid het die Naam van God gerespekteer en dit duidelik gemaak dat hy Sy naam sal loof, want God tree op en handel vanweë Sy Naam.  Dit is dus duidelik dat God se Naam vir Homself baie belangrik is.

Ps 138: 2 Ek sal my neerbuig na u heilige paleis en u Naam loof, om u goedertierenheid en om u trou ontwil; want U het vanweë u ganse Naam u toesegging groot gemaak.

Ten tye van Jesus se tyd op aarde het Hy (Jesus) die Naam van God (Sy Vader) aan die mense (Sy broers) bekend gemaak, soos wat dit God die Vader se wil is volgens Eks 9: 13 – 16 (soos ons nou net hierbo gesien het).

Joh 17: 6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.

Hoekom was dit nodig dat Jesus die Naam van God die Vader aan die mense bekend maak? Die rede hiervoor is dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes die uitspreek van die Naam van God verbied het omdat hulle dit so heilig geag het en hulle bang was dat hulle dit oneer sou betoon deur dit uit te spreek. Die Wil van God is egter dat ons Sy Naam ken en dit gebruik. Dat Jesus die Naam van God die Vader aan Sy broers vertel het is geprofeteer in die Psalms en is deur die skrywer van die boek Hebreërs bevestig deur na hierdie spesifieke skrif te verwys.

Ps 22: 22 Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.

Heb 2: 12 wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys;

Hoekom sou Jesus die moeite doen om die Naam van God bekend te maak? Wel, (1) omdat Hy gehoorsaam was aan Sy Vader om Sy Naam oor die hele aarde te verkondig (Eks 9: 16) en terselfdertyd omdat Hy (Jesus) die Woord was en is en nie anders kan as om die Woord uit te leef nie, (2) omdat Hy die Naam van God die Vader in ere wou herstel, en (3) omdat daar krag en sterkte is in die naam van God (Spr 18: 10).

Dit wat Jesus gedoen het, om te kom in die Naam van God (en derhalwe om die Naam van God bekend te maak), is ook reeds in die Psalms geprofeteer:

Ps 118: 26 Geseënd is hy wat kom in die Naam van die HERE!

Hierdie profesie word dan ook bevestig in Johannes:

Joh 12: 13 Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.

Nou as die Seun van God gekom het in die Naam van God en Sy Naam bekend gemaak het, wat is die Naam van God, die God van Israel?  In die Hebreeus lees Johannes 12 vers 13, wat ons nou net gelees het, soos volg. Let net op dat Hebreeus van regs na links geskryf word en dat die historiese (tradisionele) Hebreeus geen klinkers bevat nie.

Joh 12:13  ויקחו בידם כפות תמרים ויצאו לקראתו ויריעו לאמר הושע־נא ברוך הבא בשם יהוה מלך ישראל׃

Die onderstreepte woord in bogenoemde skrif is die Naam van God wat in die Bybel vertaal is as HERE.  Die eerste letter is die letter Yod (י), die tweede letter die letter Hey (ה), die derde letter die letter Vaw (ו), en die laaste een weer Hey (ה).  In Afrikaans sou dit soos volg daar uitsien – YHWH (יהוה).  Weens die feit dat die historiese Hebreeus nie klinkers as deel van die skrif gehad het nie, is daar tans onsekerheid rakende die klinkers en is daar gevolglik ‘n paar uitsprake vir die Naam van God wat aangehang word. Dit sluit in die Naam Yahweh, die Naam Jehovah, asook die Naam Yahuwah.

Dat die Naam van die God van Israel in die Bybel wegvertaal is, is baie duidelik. Kyk net na die volgende skrifgedeeltes – hiervolgens is die Naam van die God van Israel HERE!

Eks 3: 15 Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.

Eks 6: 3 En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.

Jer 46: 18 So waar as Ek leef, spreek die Koning, wie se Naam is HERE van die leërskare, daar sal sekerlik een kom soos Tabor onder die berge en soos Karmel by die see.

Jes 42: 8 Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

Hoe het dit gebeur dat die God van die hemel en die aarde, die God wat alles geskep het, die God wat van alle tye af daar was, nou ewe skielik ‘n aanspreekvorm, HERE, as ‘n naam het? Die antwoord hiervoor is tweeledig: (1) Die Jode (Fariseërs en Skrifgeleerdes) het geglo dat die Naam van God, Yahuwah, nie uitgespreek mag word nie ten einde te verhoed dat hulle teen sy Naam sal sondig (volgens die voorskrif van die tien gebooie), en (2) Koning Henry van Engeland het die Woord laat vertaal in engels en orals waar die Naam van God voorgekom het, is dit vertaal met LORD.  Hierdie vertaling staan vandag bekend as die King James Version, en het die afrikaanse vertaling op sy beurt LORD vertaal na HERE. Die naam Yahuwah is letterlik uit die Woord uitvertaal.  Die Modern King James Version het hierdie fout egter reggestel en maak deurgaans gebruik van die Naam JEHOVAH. Bogenoemde skrifgedeeltes lees derhalwe soos volg in die Modern King James Version:

Eks 3: 15 And God said to Moses again, You shall say this to the sons of Israel, Jehovah the God of your fathers, the God of Abraham, the God of Isaac, and the God of Jacob, has sent me to you. This is My name forever, and this is My title from generation to generation. … (MKJV)

Eks 6: 3 And I appeared to Abraham, to Isaac, and to Jacob as God Almighty. But I was not known to them by the name JEHOVAH. … (MKJV)

Jer 46: 18 As I live, says the King whose name is Jehovah of Hosts, Surely as Tabor is among the mountains, and as Carmel by the sea, so he shall come. … (MKJV)

Jes 42: 8 I am Jehovah; that is My name; and My glory I will not give to another, nor My praise to graven images. … (MKJV)

Hierdie oortreding teen die Naam van God is nie iets wat nou eers die laaste paar honderd jaar gebeur het nie, nee, volgens die Woord is dit duidelik dat die profete, duisende jare terug, die oorsaak was dat die volk van God Sy Naam vergeet het en is dit vandag steeds so. Die ‘profete’ van vandag slaan geen ag op die Naam van God nie en word die mense dan ook so geleer. Die gevolg is dat die mense nie die Naam van God ken nie en dat die Naam van God nie op die aarde verkondig word soos wat dit Sy wil is nie.

Jer 23: 26 Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart – is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?

Hierdie toedrag van sake is vandag nog net so deurdat bitter min mense die Naam van God ken en dit gebruik. Dit het verlore gegaan en is heeltemal vergete, heeltemal in opposisie met die Wil en Woord van God. Kom ons kyk nou weer na die gebod in die Tien Gebooie rakende die Naam van God.

Eks 20: 7 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

In engels, volgens die Modern King James Version, lees hierdie skrif as volg:

Eks 20: 7 You shall not take the name of Jehovah your God in vain. For Jehovah will not hold him guiltless that takes His name in vain. … (MKJV)

Die woord ‘vain’, volgens die Strong’s woordeboek (H7723) beteken letterlik ‘ruin’ en figuurlik ‘uselessness’. Die Naam van God, word dus afgebreek (‘ruin’) tot iets waardeloos (‘uselessness’).  Om nie die Naam van God te gebruik nie, en dit nie te verkondig na Sy wil nie, speel mens in die hand van die vyand (die duiwel) en word Sy Naam letterlik afgebreek tot iets waardeloos. As Sy Naam egter vir Sy volgelinge en kinders iets van waarde is sal dit gebruik en gekoester word en sal daar nie toegelaat word dat dit in onbruik verval nie. Gebeur dit nie dalk op ‘n daaglikse basis dat ons Sy Naam ydelik gebruik deurdat ons nie die volle omvang van die woord ‘ydelik’ besef en verstaan nie? Ons gee derhalwe aan Hom ‘n ‘naam’, HERE, wat geen naam is nie en word Sy Naam, Yahuwah, nie oor die hele aarde verkondig nie. Hoekom die Naam Yahuwah spesifiek?

Die Naam van God, vind inslag daarin toe God Abram en Saraï se name verander het. Abram se naam het God self verander na Abraham en het Hy Homself in Abram se naam ingevoeg; die ‘ah’ van Yahuwah is ingevoeg in Abram en word dit toe Abraham. Yahuwah het presies dieselfde gedoen met Saraï deur haar naam te verander na Sarah en so Homself ingevoeg in haar naam. Na die sondvloed het die mens weereens afgedwaal van Sy weg en die God van die hemel en die aarde verlaat. God het toe (in Sy groot genade) Abram geroep vanuit Ur van die Galdeërs om weer vir Hom ‘n volk te bou. Abram was gehoorsaam en het geglo in Hom en het God met hom (en sy nageslag) ‘n verbond gesluit. God het Homself toe ingevoeg in die ouerpaar van Sy volk (en hul nageslag), met wie Hy ‘n verbond gesluit het, en is dit ‘n onomwonde bewys van hoe belangrik Yahuwah se Naam vir homself is en hoeveel gewig dit dra.

Tweeduisend jaar na die sluiting van hierdie verbond met Abraham (en sy nageslag) was dit nodig om hierdie verbond te herstel, aangesien die volk van God (Abraham se nageslag) afgewyk het van die verbond, en moes God Homself gee as offer ten einde hierdie verbond te herstel. Die Seun van God, wat na die aarde gekom het as volmaakte Offer en Verlosser, het ‘n Naam van die Vader ontvang wat bo elke ander naam is.

Fil 2: 9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

Die Naam van die Seun van God is dus nie maar net sommer enige naam nie – dit is ‘n naam bo elke naam en om daardie rede dra dit baie gewig. Ons moet derhalwe weet wat Sy Naam is, want nie net het dit ‘n spesifieke betekenis nie, maar daar is ook krag in die Naam van die Seun van God.

Joh 14: 13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Die naam van die Seun van God beteken ‘God (Yahuwah) verlos’ en vertalings vanuit die hebreeus ondersteun twee vorme – Yahuwsha of Yeshua.

Volgens die ‘Scriptures (2009)’ vertaling word die Naam van die Seun van God as volg geskrywe en as ons ‘n westerse uitspraak daaraan gee en dit ‘inkleur’ met klinkers, dan eindig ons op met Yahuwsha:

יהושע → Yod Hey Vaw Shin Ayin → Y H W Sh A → YaHuWShA → Yahuwsha

Volgens die ‘Delitzsch Hebrew Gospels – A Hebrew/English Translation’ word die Naam van die Seun van God as volg geskrywe en as ons ‘n westerse uitspraak daaraan gee en dit ‘inkleur’ met klinkers, dan eindig ons op met Yeshua (wat later in die spreektaal, via griekse vertaling, Jesus geword het):

ישוע → Yod Shin Vaw Ayin → Y Sh W A → YeShuWa → Yeshua → Jesus

Die meer korrekte weergawe is egter Yahuwsha en is daar twee leidrade hiervoor en beide het te doen met die feit dat die Seun van God gekom het in die Naam van die God van die hemel en die aarde:

(1) die bekende prysvorm ‘hallelujah’, wat ons in bekende lofliedere vind, beteken letterlik ‘loof Yah’ wat ‘n verkorting is van ‘loof Yahuwah’, wat dan ook kan beteken ‘loof Yahuwsha’, en

(2) die Naam van die Seun van God beteken ‘Yahuwah verlos’ en vind ons dus die volgende verband: Yahuwah verlos → Yah verlos → Yahuwsha.

Kan ons met 100% sekerheid sê dat Yahuwah die naam van God is en dat Yahuwsha die naam van Sy Seun is? Wel, as die God van die hemel en die aarde Sy Naam in ere wil herstel, wat in lyn met Sy gebod is, dan kan ons met redelike sekerheid sê dat dit Sy Naam is en dat Yahuwsha die Naam van Sy Seun is, aangesien dit die openbaring is wat die Heilige Gees tot op hede gegee het. Dit is beslis nie HERE nie en Jesus is nie ‘n hebreeuse naam nie, maar ‘n griekse afleiding. Dat die naam Jesus vir baie mense van uiters groot waarde is, vanuit ‘n geloofs- asook emosionele oogpunt, is sekerlik so. Hierdie skrywe stel bloot die feite asook God se hart rakende hierdie saak. Die keuse lê by elkeen van ons wat ons met hierdie inligting gaan maak soos wat ons elkeen ons eie heil uitwerk.

Ons sien verder in die Skrif dat die verbondsvolk van Yahuwah, wat genoem is na Sy Naam, afgedwaal het en het Hy toe uitgereik na nasies wat nie na Sy Naam genoem is nie.

Jes 65: 1 Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ‘n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek! 

Ons het reeds gesien dat die God van die hemel en die aarde Sy Naam ingevoeg het in die ouerpaar van sy verbondsvolk. Dit maak dus ook net sin dat die Naam van die Verlosser, van die verbondsvolk (die mak olyfboom) en alle ander nasies en mense (die wilde olyfboom) wat bereid is om inge-ent te word op die mak olyfboom, deel uitmaak van die ouerpaar van die verbondsvolk.

Abraham, Sarah – Yahuwah / Yahuwsha

Ons vind nou dat die Naam van die God van die hemel en die aarde (Yahuwah) en die Verlosser (Yahuwsha) figureer in die aardsvader van die geloof en sy vrou. God sê hierdeur vir ons dat Hy deel van ons wil wees deurdat Hy deur Sy Gees in ons wil woon. Dit is intimiteit! Ons kan net hierdie intimiteit tot sy volle konsekwensies laat kom as ons gehoorsaam is, en God se Naam in ere herstel soos wat Hy van ons vereis in Sy Woord, en nie verder toelaat dat Sy Naam in oneer kom deur dit af te breek tot iets waardeloos nie.

Eks 20: 7 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Die eer van Yahuwah, die God van die hemel en die aarde, is in Sy Naam. Hy verdra dit nie dat Sy Naam onteer en verag word nie, veral nie deur dié wat veronderstel is om Sy Naam te verkondig nie.

Mal 1: 6 ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?

Daar is seën opgesluit daarin om die Naam van die God van die hemel en die aarde te eer, maar daar is ook vloek opgesluit daarin as Sy Naam onteer en verag word.

Mal 2: 1 – 2; 4: 2 En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod. As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer te bewys nie, sê die HERE van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge in ‘n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek, omdat julle niks ter harte neem nie. … Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. 

Yahuwah, die God van die hemel en die aarde, die God van Israel, gaan sy volgelinge, elkeen wat genoem is na Sy Naam, bymekaar maak van die ooste en die weste, van die noorde en die suide, van elke uithoek van die aarde. Word Sy volgelinge genoem na die naam HERE? Nee, HERE is nie ingevoeg in die naam van Abraham en Sarah nie, maar die Naam Yahuwah is deur God self ingevoeg.

Jes 43: 5 – 8 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het. Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.

Ons sien ook in bogenoemde Skrif dat mense oë het, maar nie sien nie, ore het, maar nie hoor nie. Kan jy sien, kan jy hoor? Deur te volhard met ‘n aanspreekvorm as ‘naam’ gee ons aan Hom ‘n ‘naam’, HERE, wat geen naam is nie en word Sy Naam, Yahuwah, nie oor die hele aarde verkondig soos wat Hy dit wil hê nie. Is hierdie ‘n aanvaarbare praktyk? Nee, hoegenaamd nie! Deur te volhard in hierdie praktyk word daar lynreg teen die Wil van God, die Woord van God, die Tien Gebooie, gegaan. Dit is gevolglik nie ‘n saak van geregtigheid nie, maar van ongeregtigheid.

Opb 13: 9 As iemand ‘n oor het, laat hom hoor.