God se Voedselvoorskrifte
Wanneer iets beskou word as ‘n ‘gruwel’ of as ‘gruwelik’, aan wat laat dit jou dink, wat kom in jou gedagtes of geestesoog op as jy hierdie woorde hoor? Ons hoor baie keer van ‘n moord wat gepleeg is, en partykeer hoor ons van ‘n grusame moord wat gepleeg is. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is die betekenis van hierdie woorde die volgende: ‘n gruwel is ‘iets waarvan ‘n mens gru;’ en gruwelik is iets ‘wat afsku, afgrysing wek, grusaam is, afgryslik’. Iets wat ‘n gruwel is is niks anders as afstootlik of afskuwelik en vervul dit ‘n mens met afgryse. Dit is eenvoudig die slegste van sleg; dit verhef iets wat sleg is tot die oortreffende trap, tot die toppunt van dit wat sleg of afstootlik is. In die Woord van God word hierdie woorde telkens gebruik wanneer God te kenne gee wat daardie dinge is wat vir Hom afstootlik en afgryslik is. As ons bepaalde gruwels, of gruwelike dinge, aan die een kant van die spektrum plaas, wat sou ons aan die ander kant van die spektrum plaas? Sekerlik daardie dinge wat heilig is. Raadpleeg ons weereens die HAT dan sien ons die woord heilig beteken letterlik ‘volmaak, sonder sonde’. Ons as mense het ‘n keuse; ons kan kies om ‘n pad te stap waar ons daarna streef om heilig voor God te wees. As ons hierdie pad nie stap nie dan loop ons die gevaar om ‘n gruwel in die oë van God te wees.
In die Woord van God, die Bybel, maak God dit baie duidelik wat vir Hom gruwelik is, maar ook wat vir Hom heilig en aanneemlik is. Jesus het dit baie duidelik gemaak dat sommige dinge wat die mens dink reg en aanneemlik is, inderdaad ‘n gruwel voor God is.
Luk 16: 15 … wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.
Hierdie is in lyn met wat ons gesien het in die vorige gedeelte dat daar ‘n weg is wat vir die mens reg lyk, maar dit is inderdaad ‘n weg van die dood.
Spr 14: 12 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
Die punt is dat die mens nie kan besluit wat reg of verkeerd is nie, nee, net God besluit wat reg of verkeerd is, wat ‘n gruwel is en wat heilig is. Daar word telke male gesê dat dit wat in die Ou Testament geskryf staan nie meer van toepassing is nie en hoef ons ons dus nie daaraan te steur nie. Dit is ‘n baie gevaarlike houding of standpunt om in te neem. ‘n Tipiese voorbeeld hiervan is die Tien Gebooie wat alleen in die Ou Testament op skrif staan en glad nie in die Nuwe Testament voorkom nie. Alhoewel die Christendom sommige van die Tien Gebooie verander het is daar ‘n algemene ‘aanvaarding’ dat die Tien Gebooie steeds onderhou moet word. Gaan ons al hierdie gebooie van die tafel afvee net omdat dit in die Ou Testament geskryf staan? Dit bring ons dan by God se voorskrifte rakende wat Hy as voedsel reken en wat nie. In Levitikus 11: 1 – 47 gee God vir ons die voorskrifte ten opsigte van dit wat die mens mag en nie mag eet nie, met ander woorde dit wat vir Sy kinders as voedsel gereken kan word. Hier volg maar net ‘n uittreksel van hierdie gedeelte; lees die hele gedeelte self.
Lev 11: 1 – 47 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê: … die volgende mag julle nie eet nie … die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle. … Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet. Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is ‘n gruwel is dit vir julle. … En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: … die volstruis … Alles wat op die buik seil … dit is ‘n gruwel. … Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie. Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is. Dit is die wet oor die diere en die voëls en al die lewende wesens wat roer in die water en aangaande al die wesens wat op die aarde wemel, om te onderskei tussen wat onrein en rein is, en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.
So belangrik is hierdie voorskrifte vir God dat hy dit herhaal in Deuteronomium 14: 3 – 21.
Deut 14: 2 – 21 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is. Jy mag niks eet wat ‘n gruwel is nie. Dit is die diere wat julle mag eet: ‘n bees, ‘n skaap en ‘n bok; ‘n takbok en ‘n gemsbok en ‘n gestippelde takbok en ‘n steenbok en ‘n ribbok en ‘n eland en ‘n klipspringer; en al die diere wat gesplitste kloue het, en wel heeltemal in twee gesplitste kloue, en herkou onder die diere – dié mag julle eet. Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat die gesplitste kloue het: die kameel en die haas en die das, want hulle herkou maar het geen gesplitste kloue nie – onrein is hulle vir julle; ook die vark, want hy het gesplitste kloue, maar is geen herkouer nie – onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet en hulle aas mag julle nie aanraak nie. Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet. Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie – onrein is dit vir julle. Al die rein voëls mag julle eet. Maar dit is wat julle uit hulle nie mag eet nie: die arend en die lammervanger en die aasvoël; en die kuikendief en die valk en die gier na sy soorte; en elke kraai na sy soorte; en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk na sy soorte; en die steenuil en die steunuil en die silweruil; en die pelikaan en die kleinaasvoël en die visvanger; en die groot-sprinkaanvoël en die reier na sy soorte, en die hoep-hoep en die vlermuis. En al die insekte met vlerke moet vir julle onrein wees; hulle mag nie geëet word nie. Al die rein voëls mag julle eet. Julle mag geen aas eet nie; …
Hierdie voorskrifte in Levitikus en Deuteronomium is egter nie die eerste keer wat God die Vader aan die mens meegedeel het wat hulle mag en nie mag eet nie, oftewel wat rein en onrein is nie. Hy het voor die aanbreek van die vloed aan Noag opdrag gegee om sewe pare van die rein diere in die ark te neem en slegs een paar van die onrein diere. Die rein diere het vir Noag en sy gesin sekerlik as voedsel gedien tydens die vloed asook daarna. Sou hulle van die onrein diere geëet het, sou daar niks van oor gewees het na die vloed nie aangesien daar net een paar van elk was. Na die vloed het Noag ook van hierdie rein diere aan God geoffer. Hy kan nie wat God as gruwelik beskou vir Hom as offer bring nie.
Gen 7: 1 – 2 Daarna het die HERE aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag. Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy wyfie.
Gen 8: 20 En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.
Dit is dus baie duidelik dat God voor die vloed al, lank voordat hy Sy volk uit Egipte verlos het en die voedselvoorskrifte vir hulle gegee het in Levitikus 11 en Deuteronomium 14, aan Sy volgelinge te kenne gegee het watter diere onrein is en gevolglik nie as voedsel gereken kan word nie. God maak dit baie duidelik dat Sy volk/volgelinge vir Hom afgesonder is en nie soos ander volke moet wees nie.
Lev 20: 24 – 26 … Ek is die HERE julle God wat julle van die volke afgesonder het. Daarom moet julle ‘n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere, en tussen die onrein en rein voëls; en maak julleself nie ‘n gruwel deur diere of deur voëls of deur enigiets wat op die aarde roer nie wat Ek vir julle afgesonder het deur dit onrein te verklaar. En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.
God bevestig dit drie keer, in Levitikus 11 en 20 asook Deuteronomium 14, wat rein en onrein is, watter diere en voëls gruwels vir Hom is, en wat dus nie as voedsel vir Sy volk/volgelinge kan dien nie. God herhaal dan ook drie keer hierdie volgende BAIE belangrike oproep:
Lev 11: 44 … wees heilig, want Ek is heilig; …
Lev 11: 45 … So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is.
Lev 20: 26 … julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; …
Drie keer maak God dit baie duidelik dat Sy volk heilig moet wees omdat Hy heilig is. Omdat Hy heilig is, volmaak en sonder sonde, moet Sy volk heilig wees en nie toelaat dat enige gruwel in hul tempel, waar Sy Gees woonagtig is, ingaan nie.
Hierdie oproep deur God die Vader om heilig te wees, omdat Hy heilig is, het Petrus herhaal in die brief wat hy geskryf het. In hierdie gedeelte haal Petrus twee keer die Woord van God aan vanuit die Ou Testament.
1 Pet 1: 15 – 25 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees. As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.
Die eerste stap na heiligmaking is bekering of wedergeboorte. Petrus maak dit baie duidelik dat ons nie wedergebore word uit verganklike saad (‘n spermsel en eiersel) nie, nee, maar uit die onverganklike saad – die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly. Petrus koppel die proses van heiligmaking direk aan die (onvervalste) Woord van God wat tot in ewigheid bly. Onthou, Jesus is die Woord wat vlees geword het en kan ons nie Jesus los maak van die Woord of aan die Woord ‘n ander betekenis gee nie. Doen ons dit dan ontheilig ons Jesus. Petrus verwys hier na die ‘lewende Woord’ van God. Stefanus het ook na die ‘lewende Woord’ verwys tydens sy getuienis voor die Joodse raad, maar is hy daarvoor gestenig omdat hy die Waarheid gepraat het en hulle dit nie verstaan het nie.
Hand 7: 37, 38 Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy (Moses) wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
Let daarop dat die ‘lewende Woorde’ wat Moses op die berg Sinai ontvang het opgeskryf is in die Ou Testament. Ten tye van Stefanus se getuienis het Jesus reeds opgevaar na die hemel en was die Ou Testament vir Stefanus steeds lewend. Net so is dit vandag steeds lewend. Petrus gaan egter verder en motiveer die onverganklikheid van die Woord van God deur weer Ou Testamentiese skrif aan te haal by monde van die profeet Jesaja.
Jes 40: 6 – 8 ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
As ons kies om die woord(e) wat Moses ontvang het in die woestyn, rakende dit wat rein en onrein is, ‘n ander betekenis te gee of om te sê dat dit vandag nie meer van toepassing is nie, dan word hierdie woord(e) vir ons dooie woord(e) en dooie woord(e) bly nie vir ewig nie. Dit is dan heeltemal in teenstelling met wat Petrus, Stefanus en Jesaja geglo het van die Woord van God.
Hierdie opdrag van God, ‘Wees heilig, want Ek is heilig’, kom net voor in Levitikus en dan weer in 1 Petrus 1. Nie net het Petrus hierdie skrif verstaan nie, maar hy het daarvolgens geleef aangesien dit ook hy was wat (in Handelinge 10) geweier het om van die onrein diere te eet wat op ‘n groot laken vanuit die lug neergedaal het. Hierdie gebeurtenis was ‘n beeld (metafoor of gelykenis) wat God gebruik het om aan Petrus te toon dat mense wat nie Jode is nie, ook deur Hom aanvaar word deur dit wat Sy Seun Jesus gedoen het – dit het NIKS met die reiniging of ontheiliging van ‘voedsel’ te doen nie. Die Jode het in daardie dae heidene as honde beskou, ‘n dier wat onrein is, en het hulle nie met die heidene gemeng nie en ook nie in hul huise ingegaan nie. Dink maar aan die Kananése vrou wat Jesus genader het vir genesing van haar dogter. Jesus sê toe vir haar dat dit nie reg is om die kinders (die Jode) se kos vir die hondjies (die heidene) te gooi nie. Haar antwoord daarop was dat die hondjies darem eet van die krummels wat van hul base se tafels afval.
Mat 15: 21 – 27 En Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek. En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.
Wanneer Jesus die mense iets wou leer het Hy met hulle gespreek aan die hand van ‘n gelykenis, …
Mat 13: 34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;
… net so het God vir Petrus iets geleer rakende die heidene en het Hy dit gedoen aan die hand van ‘n gelykenis.
Hand 10: 1 – 48 En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe. En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? En hulle sê: Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan. Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus – Hy is die Here van almal. Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae te bly.
Dat God ook mense aanvaar wat nie Jode is nie, is dan ook presies hoe Petrus dit verstaan het, en het hy dit so aan die ander dissipels/apostels meegedeel. Hy het NIE daarna rondgeloop en verkondig dat dit nou geoorloof is om ewe skielik onrein diere, wat onheilig is, te eet nie; ‘n mens sien/lees dit nêrens nie. Nee, Petrus het gehou by die lewende onverganklike Woord van God en geweet dat God tot hom gespreek het aan die hand van ‘n gelykenis. As God dan heilig was en is, hoe kan Hy dan nou ewe skielik Sy eie standaard verlaag? As iets vir Hom ‘n gruwel was, hoe kan dit dan nou ewe skielik nie meer vir Hom ‘n gruwel wees nie? Hierdie skrifgedeelte oor die laken vol onrein diere word vandag deur die mens verdraai om hulself en hul oorgelewerde gebruike/gewoontes te pas.
Eseg 22: 26 Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.
Die heilige dinge van God kan nie ontheilig word nie, nie toe nie, nie nou nie, nooit nie, want Sy Woord is onverganklik (omdat Hy nie verander nie) en ons moet in lyn daarmee wedergebore word en nie in lyn met ons eie verdraaide woord nie!
Ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees. Ons kan nie die Gees van God, die Heilige Gees, in ons tempels (ons liggame) verwelkom en dan terselfdertyd dit wat vir God ‘n gruwel is ook in ons tempels inneem nie. Hoe het ons by hierdie punt gekom?
1 Kor 6: 19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
As ek dan nou met my tempel/liggaam doen wat ek nie moet nie, gee ek dan nie te kenne dat ek aan myself behoort en nie aan God nie? God het die mens geskape om ‘n tempel te wees vir Sy Gees en nie vir bose geeste nie. Dis daarom dat hy telkens bose geeste uit mense gedryf het. Toe Jesus die duiwels uitgedryf het uit twee duiwelbesetenes, het die duiwels GEVRA dat hulle tog maar net in die varke kan gaan. Dit het Jesus dan ook toegelaat. Dit wat absoluut onrein en onheilig is, het gevra om in dit wat absoluut onrein en onheilig is in te gaan. Dit is beslis ‘n geval van soort soek soort en was die varke, in hierdie geval, tempels vir die bose geeste.
Mat 8: 28 – 32 En toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? En ver van hulle af het ‘n groot trop varke gewei. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar. En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.
Die gelykenis van die verlore seun, soos vertel deur Jesus, maak duidelik melding dat die jongste seun wat van sy pa se huis af weggeloop het, die pad so byster geraak het en so laag gedaal het dat hy sy lewe met hoere gedeel het en uiteindelik as ‘n ‘varkwagter’ opgeëindig het, voor hy tot die besef van sy verkeerde weë gekom het en terug is na sy pa.
Luk 15: 13 – 19 En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar ‘n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.
Jesus wil deur hierdie gelykenis te kenne gee dat al raak jy die pad so byster en daal jy so laag dat jy met ‘n vark vereenselwig kan word, dan kan jy steeds jou lewe omdraai en teruggaan na jou hemelse Vader. Jy moet jouself egter die vraag afvra, “is ek deel van ‘n opstandige volk wat nie ag slaan op God se Woord en myself nie afsonder (heilig) soos wat Hy afgesonder (heilig) is nie?”
Jes 65: 2 – 4 Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan; ‘n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene; wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels;
Is jy gereed vir wanneer Jesus weer kom? Is jy heilig (afgesonder) soos wat Hy heilig (afgesonder) is, of gaan Hy mense teekom wat hulself voor hom verontreinig en gruwels van hulself maak in Sy aangesig deur hulle nie te hou by die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly nie?
Jes 66: 15 – 18 Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos ‘n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging. Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees. Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise – almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die HERE. Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.
Wanneer Jesus in vuur kom om al die nasies en tonge (tale) te versamel vir die oordeel, gaan jy ongehoorsaam wees en nie sy gebooie hou wat die voedselvoorskrifte aan betref nie? Gaan jy jouself tot ‘n gruwel maak in Sy aangesig ter wille van jou oorgelewerde gebruik(e)?
Hierdie gebooie van God ons Vader, rakende rein en onrein diere wat in ons liggame/tempels mag en nie mag ingaan nie, is fisiese gebooie aangesien die voedsel self fisies is. Dit het egter ook ‘n dieper geestelike betekenis deurdat ons nie enigiets wat onrein/onheilig is by ons tempels kan inbring nie. Dit sluit natuurlik daardie dinge in wat deur ons oë ons tempels binnekom. Voorbeelde hiervan is die kyk van pornografie, die kyk van flieks waar geweld, seks en kru taal hoogty vier en enigiets anders wat onrein of onheilig is en nie ‘n tempel kan deel met die Gees van God nie.