God se Feeste

Het jy al ooit jouself hierdie vraag afgevra, “Leef ek die evangelie?” As iemand vir jou sou sê dat God alreeds van die Israeliete, onder leiding van Moses, verwag het om die evangelie te leef, wat sou jy van hierdie stelling maak? Bring hierdie stelling jou by ‘n kruispad van konflik tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament; die konflik wat daarin lê dat die Ou Testament per slot van rekening ‘pre’-Jesus is terwyl die Nuwe Testament grotendeels ‘post’-Jesus is, en dat daar algemeen aanvaar word dat die Ou Testament mee weggedoen is en dat ons nou alleen die Nuwe Testament leef. As God hierdie ‘leef van die evangelie’ reeds toe van Sy volk verwag het, onder leiding van Moses, verwag Hy dit nie nou des te meer van ons nie? As dit so is dan bring dit die Ou en Nuwe Testament baie nader aan mekaar as wat mens sou dink. Die kern van hierdie vraag, en die antwoord, lê opgesluit in die verstaan van die woord ‘evangelie’.

Die woord evangelie kom 117 keer voor in die Nuwe Testament (1953 Afrikaanse Vertaling) terwyl dit glad nie voorkom in die Ou Testament nie. Net hierin is dit dalk heeltemal te verstane dat die ‘evangelie’ vandag glad nie met die Ou Testament in verband gebring word nie. Ons sien hierdie woord die eerste keer in Mattheus 4: 23,

Mat 4: 23 En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.

Reeds vroeg in die lering en prediking van Jesus het hy die mense geleer oor die evangelie. Die evangelie van wat? Die evangelie van die koninkryk. Watter koninkryk? Die koninkryk van God, die koninkryk van die hemel. In die vorige gedeelte (Jesus se Waarskuwing) het ons gesien God is Gees en moet ons Hom dien in Gees en Waarheid. Sy koninkryk, die hemelse koninkryk, is uit die aard van die saak geestelik en is dit Sy wil dat ons deel word van Sy koninkryk, reeds hier op aarde. Onthou, in die vorige gedeelte het ons gesien dat ons sondige, gevalle natuur (wat vleeslik/fisies van aard is, en hoe Satan ons wil hê) herstel moet word, deur Jesus, die Waarheid, die Woord, terug na ons geskape natuur (wat geestelik is, en hoe God ons wil hê). As ons egter vandag die woord evangelie hoor dan is die sentrale gedagte wat by ons opkom dié van Jesus se sterwe vir ons sonde sodat ons gered kan word. Dit is sekerlik die kruks van die saak, maar dit verteenwoordig NIE die hele evangelie van die koninkryk van die hemel nie; dit behels veel meer as dit.

Ten tye van Jesus se lering het die Israeliete nog die Ou Testament geleef, en as hulle die evangelie geleef het volgens die Ou Testament, dalk sonder om te verstaan wat dit werklik beteken, dan sou hulle toe ‘n baie goeie verstaan gehad het van wat Jesus vir hulle kom oopbreek het rakende die evangelie van die koninkryk van die hemel. As hulle dan hierdie fondasie (rakende die evangelie van die koninkryk van die hemel) gehad het waarop Jesus kom bou het, sal dit ons nie ook baat om hierdie (verlore) fondasie deel van ons geloofslewe te maak nie?

Hierdie ‘diskonneksie’ tussen die Ou en die Nuwe Testament lê opgesluit in die vertaling van die geskrifte. Die Ou Testament is vertaal vanuit Hebreeus en/of Aramees terwyl die Nuwe Testament vertaal is vanuit Grieks. God se boodskap het nie verander nie en vloei dit soomloos reg deur Sy Woord. Die woord evangelie word in engels vertaal as ‘gospel’ en beteken letterlik ‘goeie boodskap’. In die Nuwe Testament (1953 Afrikaanse Vertaling) kom die term ‘goeie boodskap’ glad nie voor nie terwyl dit in die Ou Testament verskeie kere voorkom. Daar bestaan dus hierdie ‘diskonneksie’ tussen wat in die Ou Testament die ‘goeie boodskap’ is en wat in die Nuwe Testament die ‘evangelie’ is. Die skrywe van die profeet Jesaja is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Jes 52: 7, 13, 14 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! … Kyk, my Kneg (Jesus) sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word. Soos baie hulle oor U verstom het—so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van ‘n mensekind nie— (‘n heenwysing na Jesus se kastyding en kruisiging).

Die profeet Jesaja, in hoofstukke 52 en 53, profeteer oor die koms, lyding en sterwe van Jesus ten einde die wêreld te verlos van sy sonde. Hierdie is, soos reeds genoem, die kern van die evangelie of goeie boodskap, maar dit is baie meer omvattend as net dit. Die volle evangelie of goeie boodskap van God se hemelse koninkryk lê opgesluit in die verstaan, en leef, van God se feeste. Die profeet Nahum maak dit baie duidelik toe hy sê,

Nah 1: 15 Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! …

Nahum se skrywe het plaasgevind in ongeveer 620 vC, nagenoeg ‘n honderd jaar nadat die noordelike koninkryk van Israel (die tien noordelike stamme; die nie-Jode) deur die Assiriërs weggevoer is in ballingskap (tot vandag toe). Al wat oorgebly het was die suidelike koninkryk van Juda (die twee stamme van Juda en Benjamin; die Jode). Nahum rig dus sy skrywe aan Juda, soos ons kan sien in bogenoemde skrifgedeelte, en roep hy die oorblywende Israeliete op om die feesdae te onderhou, want daarin lê die goeie boodskap opgesluit. Die goeie boodskap het egter vir die Israeliete geresorteer rondom die herstel van hul fisiese koninkryk. Die Israeliete het hul Messias verwag, want dit is so opgeskryf en geprofeteer in hul geskrifte (die Ou Testament). Hulle het egter ‘n ‘messias’ verwag wat hulle van hul fisiese onderdrukking sou kom verlos. Ten tye van Jesus se lering en prediking (rakende die herstel van ‘n geestelike koninkryk) was Israel beset deur die Romeine en het die Jode ‘n verlosser (‘n ‘messias’) verwag wat hul van hul fisiese onderdrukking sou kom verlos. Hierdie fisiese onderdrukking was egter die gevolg van geestelike sonde waarvan fisiese onderdrukking die uitvloeisel was. Hulle het nie gehou by God se Woord nie en daarom was daar gevolge, gevolge wat opgesluit lê in die ‘vloek van die Wet’. Hulle het nie nodig gehad om verlos te word van hul fisiese onderdrukking nie, nee, hulle het nodig gehad om verlos te word van hul geestelike sonde. Hulle wou van hul fisiese onderdrukking verlos word net om hul eie fisiese koninkryk in stand te hou. Jesus het egter gekom om hul te verlos van die oorsaak van hul fisiese onderdrukking deur die ‘vloek van die Wet’ op homself te neem sodat die ‘seën van die Wet’ hul kan geval. Hierdeur word ‘n geestelike koninkryk opgerig – na die Wil van die Vader. Op ‘n makro-skaal is hierdie die prentjie van wat God op ‘n mikro-skaal wil teweeg bring. In die vorige gedeelte (Jesus se Waarskuwing) het ons gesien dat elkeen van ons nodig het om op ‘n persoonlike vlak gerestoureer te word weg van ons fisiese natuur terug na ons geestelike natuur (die mikro-skaal). Wanneer dit gebeur vloei dit deur na die makro-skaal – restourasie van die land, ens. (die seëninge van God se Wet). Israel het nodig gehad om gerestoureer te word weg van hul fisiese koninkryk terug na ‘n geestelike koninkryk. Hierdie proses van restourasie tot ‘n geestelike koninkryk lê opgesluit in die feeste van God.

Kom ons kyk vervolgens na die leef van die evangelie in die Ou Testament, na aanleiding van God se feeste, hoe ons dit vandag as gelowiges/gehoorsames behoort te leef, en hoe daar vandag slegs beperkte gedeeltes van hierdie evangelie of goeie boodskap in die Christendom geleef word. Onder leiding van Moses gee God Sy feeste aan Sy volk as heilige samekomste,

Lev 23: 1, 2 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye.

Ons moet hieroor geen onsekerheid hê nie, ons mag nie bitter soet maak of soet bitter nie (soos ons in die vorige gedeelte gesien het nie), nee, in geloof neem ons God op Sy Woord. God maak dit baie duidelik, “Die feestye van die HERE … dit is my feestye.” Die feeste wat God uitgeroep het behoort nie aan ‘n bepaalde groepering nie, soos byvoorbeeld die Jode (‘n groepering wat ten tye van hierdie uitroep/opdrag van God nog nie die naam Jood gedra het nie), nee, die feeste is God se feeste en as dit Sy feeste is dan is dit almal se feeste.

Kom ons kyk nou na die res van Levitikus 23, waar al die feeste saam gegroepeer word, waarna ons  dan individueel na elkeen van die feeste afsonderlik sal kyk ten einde die hele evangelie boodskap, of goeie boodskap, te verkry.

Lev 23: 3 – 44 Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is ‘n sabbat van die HERE in al julle woonplekke. Dit is die feestye van die HERE, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg. Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, ‘n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die HERE berei, en die spysoffer wat daarby behoort, twee tiendes van ‘n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die HERE, ‘n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, ‘n kwart hin. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke. Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die HERE. Julle moet ook by die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet ‘n brandoffer aan die HERE wees saam met die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. En julle moet een bokram as sondoffer berei. Ook twee jaaroud lammers as dankoffer, en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan die HERE heilig wees, ten voordele van die priester. En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ‘n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ‘n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte. En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag. Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE ‘n vuuroffer bring. En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ‘n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God. Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit. Julle mag géén werk doen nie; dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke. ‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE. Op die eerste dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Dit is ‘n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie. Dit is die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die HERE ‘n vuuroffer te bring: ‘n brandoffer en spysoffer, ‘n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die HERE en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die HERE sewe dae in die jaar vier. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God. So het Moses dan die feestye van die HERE aan die kinders van Israel bekend gemaak. 

In bogenoemde gedeelte sit God al Sy feeste uiteen. Hy begin hierdie gedeelte deur weer vir Sy mense te wys op Sy afgesonderde dag, die sewende dag. Die sewende dag is inderaad ‘n feesdag, ‘n weeklikse afgesonderde feesdag. Meer hieroor in die volgende gedeelte wat handel oor die Sabbat. Die ander feeste van God daarenteen is jaarlikse feeste en kyk ons nou na elkeen van hulle afsonderlik ten einde die geheelprentjie te verkry.

Die eerste van God se feeste is die Pasga.

Lev 23: 5 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE;

Die pasga is die eerste van die jaarlikse feeste en gee God vir ons ‘n meer breedvoerige uiteensetting van hierdie fees in Eksodus.

Eks 12: 1 – 14 En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin. Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die HERE is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie. En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.

Die mense van God moes ‘n lam neem, ‘n lam sonder gebrek, en dit slag teen die aand op die 14de dag van die eerste maand van die jaar. Die bloed van die lam moes hulle dan aanwend aan die deurposte van hul huise wat as ‘n teken sou dien vir God om verby te gaan. Daar sal dan lewe in daardie huis wees wat nie tot die dood lei nie. Hierdie was ‘n fisiese heenwysing na wat Jesus vir ons, deur sy fisiese handeling, geestelik vir ons bewerkstellig het. Hy het vir ons gesterf as perfekte lam, en as ons Sy bloed aanwend aan die deurposte van ons harte sal daar vir ons lewe wees wat nie tot die geestelike (ewige) dood lei nie. Deur jaarliks hierdie fees te hou word ons herinner daaraan. Ons is losgekoop deur Sy bloed en is dit nou vir ons moontlik om ons gevalle, sondige natuur te herskep na die geskape natuur wat God vir ons in gedagte gehad het. Petrus stel die onteenseglik in sy skrywe vir ons,

1 Pet 1: 17 – 19 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 

Ons is losgekoop, deur die bloed van die Lam (Jesus), van ‘n ydele lewenswandel wat deur ons vaders oorgelewer is. Niks is nuut onder die son nie; wat toe was is nou weer. Ons het nou nodig om van valshede en verdraaiïng verlos te word. As ons lewenswandel nie in lyn is met die Woord nie, het ons nodig om daarvan losgekoop te word – Jesus se bloed maak dit moontlik.

Hierdie Pasga fees word vandag in ‘n ander gedaante gevier deur die Christendom wat ongelukkig nie in lyn is met God se Woord/Hart/Wil nie. Dit staan vandag algemeen bekend as Goeie Vrydag aangesien daar aanvaar word dat Jesus op ‘n Vrydag-middag gekruisig is en begrawe is voor die aanbreek van die weeklikse sabbat (Saterdag). Volgens die Christendom het Hy dan op die Sondag, Opstandingsondag, uit die dood opgestaan. Skematies lyk hierdie opeenvolgende gebeure as volg.

As Jesus gekruisig is op die 14de van die maand, wat saamval met ‘n Vrydag, en dan laat op die Sondag opgestaan het, is dit ‘n totaal van twee dae en twee nagte. Dit is egter nie in lyn met die Woord van God en met Jesus se eie woorde wat Hy gespreek het teenoor die skrifgeleerdes en Fariseërs nie.

Mat 12: 38 – 40 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. 

Jon 1: 17 En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis. 

Die Woord van God, en die woorde van Jesus self, maak dit baie duidelik – Jesus was in die graf vir drie dae en drie nagte. Daar kan onmoontlik drie dae en drie nagte tussen die Vrydag en Sondag ingepas word. Dit beteken dan dat as Hy op die Vrydag-middag gekruisig en begrawe is, dat Hy dan eers laat op die Maandag-middag opgestaan het. Die Christendom, egter, hou ‘hul’ fees religieus op ‘n ander tydskaal. Waarom is dit so? Die eenvoudige reguit antwoord is dat die Pasga fees vermeng geraak het met ‘n heidense siening. Kom ons aanvaar vir ‘n oomblik om nie die ‘ydele lewenswandel van die vaders’ te aanvaar nie en grawe ons bietjie dieper om by die volle Waarheid uit te kom rakende hierdie saak. ‘n Verdere rede vir hierdie afwyking is omdat daar weggedoen is met die fees van Ongesuurde Brode. Pasga en Ongesuurde Brode is gekoppel aan mekaar en deur die een weg te gooi verloor mens God se perfekte tydskaal en tydsberekening. Kom ons kyk wat sê God oor Sy tydsberekening.

Lev 23: 5 – 7 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. 

Pasga is op die 14de dag van die eerste maand met Ongesuurde Brode wat begin op die 15de van dieselfde maand, die dag net na Pasga. Die eerste dag van Ongesuurde Brode (die 15de) is ‘n heilige vierdag, ‘n rusdag, ‘n sabbat. Kyk wat sê Johannes hieroor,

Joh 19: 31 En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. 

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n weeklikse sabbat en hierdie sabbat, die 1ste dag van Ongesuurde Brode, wat volgens Johannes nie ‘n normale sabbat was nie, maar ‘n ‘groot’ sabbat. Dit verander die prentjie heeltemal. Ons skuif alles een dag terug en dan sien die tydsverloop nou so daaruit.

As die 14de, die Pasga, nou op die Donderdag is, dan is die 15de, die 1ste dag van Ongesuurde Brode (‘n groot sabbat) op die Vrydag, gevolg deur die weeklikse sabbat op die 16de. Pas ons nou drie dae en drie nagte in dan sien ons dat Jesus laat op die Sondag, die eerste dag van die week, opgestaan het. Het ons nou met die volle Waarheid te doen?  Nee, nog nie. Kom ons kyk wat sê Mattheus hieroor.

Mat 28: 1, 5, 6 En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. … Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; 

Die twee Maria’s het, toe dit begin lig word, op die eerste dag van die week, na die graf gegaan. Jesus het toe reeds opgestaan, soos aangekondig is deur die engel. Hy kon dus nie laat op die eerste dag van die week, die Sondag, opgestaan het nie. Om drie dae en drie nagte in te pas moet ons gevolglik alles nog een dag terugskuif, en lyk die prentjie dan so.

Indien Jesus gekruisig is laat op die Woensdag-middag (die 14de), voor die aanbreek van die Fees van Ongesuurde Brode (die 15de) wat met sonsonder begin, dan neem drie dae en drie nagte ons na laat op die Saterdag, die weeklikse sabbat, net voor die aanbreek van die eerste dag van die week, die Sondag. Hierdie verloop van gebeure maak baie meer sin, en kan ons net hiervan sin maak indien ons Pasga en Ongesuurde Brode saam beskou, dit nie los maak van mekaar nie en dit allermins eenkant gooi en ignoreer. Hierdie is egter nog nie die volle of finale prentjie nie. Die volle en finale prentjie verkry ons alleen deur ook die volgende fees in aanmerking te bring, dié van die eerstelingsgerf of eerste vrugte, maar ons staan vir nou net gou stil by Ongesuurde Brode.

Wat is die geestelike betekenis van Ongesuurde Brode vir ons vandag? God gee vir ons ook ‘n uiteensetting van die fisiese onderhouding van hierdie fees in Eksodus 12.

Eks 12: 15 – 20 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. En op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word. Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ‘n ewige insetting hou. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ‘n vreemdeling is of ‘n kind van die land. Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet. 

Suurdeeg word in die Nuwe Testament algemeen gebruik as ‘n metafoor van sonde. Beide Jesus en Paulus maak gebruik van hierdie metafoor. Die gebruik van hierdie woord het nie maar net uit die lug geval nie, nee, hulle was baie bekend daarmee aangesien hulle die fees van Ongesuurde Brode gehou het.

Mat 16: 5 – 12 En toe sy dissipels na die oorkant gegaan het, het hulle vergeet om brode saam te neem. Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie. Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie? Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyf duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Of die sewe brode van die vier duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie? Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. 

In hierdie gedeelte gebruik Jesus suurdeeg as metafoor vir die verdraaide leer van die Fariseërs en Sadduseërs, die ‘geestelike leiers’ van daardie tyd. Ons moet net so vandag bedag wees op die leer of suurdeeg van hierdie tyd, want net soos suurdeeg deur die hele deeg/brood werk, deurtrek die leer van hierdie tyd die hele liggaam (gemeenskap van die gelowiges).

1 Kor 5: 6 – 8 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. 

Sien julle in hierdie gedeelte hoe onlosmaaklik deel die fees van Ongesuurde Brode en Pasga van mekaar is. Paulus verwys na beide in hierdie gedeelte en doen ‘n oproep dat ons nou moet feesvier as ongesuurde brode van reinheid en waarheid en nie van ondeug en boosheid nie. Hierdie fees van Ongesuurde Brode gee ons nog ‘n geleentheid om te fokus op heiligmaking en geestelike groei. Hierdie fees was, en is, ook ‘n heenwysing na Jesus, want net soos Jesus die perfekte Lam was, is Hy ook die Brood van die Lewe wat sonder suurdeeg/sonde was. Ons moet net soos Hy sonder sonde/suurdeeg wees. Hierdie geestelike huis van ons, wat ‘n tempel/tabernakel van die Heilige Gees is, moet gereinig word van sonde/suurdeeg. Ons moet onsself ondersoek en enige vorm van sonde/suurdeeg uit ons sisteem kry. Jaarliks herinner hierdie fees ons daarvan.

‘n Vraag wat dalk al by jou opgekom het is, ‘As die Pasga op die 14de van die maand gehou word, hoekom het Jesus dan die Pasgamaal die vorige aand saam met Sy dissipels gehou?’ ‘n Verdere vraag is, hoekom sê die Woord dat die ‘dag van die ongesuurde brode’ en die Pasga saamval?

Luk 22: 7, 8, 14, 15 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. … En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 

Hierdie ‘dag van ongesuurde brode’ was nie die 1ste dag van die fees van Ongesuurde Brode wat op die 15de van die maand val nie. Nee, dit spruit vanuit die feit dat daar alreeds ongesuurde brode saam met die pasga ge-eet moes word, en het hulle dit die ‘dag van ongesuurde brode’ genoem wat saamval met die Pasga op die 14de.

Eks 12: 6, 8 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. … En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. 

In die volgende gedeelte sien ons, volgens Johannes, dat Jesus die Pasgamaal die vorige aand saam met sy dissipels gehou het.

Joh 13: 21, 26, 27, 30 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. … Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon. En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig. … Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.

Die vraag is nou, hoe kon Jesus die vorige aand die Pasgamaal hou terwyl die Pasgalam eers die volgende dag geslag word? Dit val dan nie saam nie en is die tydsberekening uit. Nee, Jesus se tydsberekening was en is nooit uit nie. Dit kom in by die feit dat ‘n dag, volgens God se Woord, begin by die aanbreek van die aand en loop tot net voor die aanbreek van die volgende aand. ‘n Dag sluit dus die voorafgaande aand en nag in. Dit is in lyn met God se skeppingsdae soos ons dit sien in Genesis.

Gen 1: 5, 8 En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. … En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. 

Dit word vir ons bevestig in Levitikus; die Pasga begin in die aand, die 14de van die maand.

Lev 23: 5 – 7 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE; 

Jesus se Pasgamaal saam met sy dissipels en Sy offer vir ons as Pasgalam het op dieselfde dag plaasgevind. Sy tydsberekening was en is perfek.

God se kalenderprentjie sien nou as volg daaruit.

Die volgende fees op die jaarkalender staan algemeen bekend as Eerste Vrugte, terwyl daar egter in Afrikaans in die Woord na verwys word as die eerstelingsgerf van die oes. Die rede hiervoor is in alle waarskynlikheid omdat dit in engels bekend staan as ‘firstfruits of the harvest’.

Lev 23: 10 Speak to the sons of Israel and say to them, When you have come into the land which I give to you, and shall reap the harvest of it, then you shall bring a sheaf of the firstfruits of your harvest to the priest. (MKJV)

Lev 23: 9 – 14 En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg. Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, ‘n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die HERE berei, en die spysoffer wat daarby behoort, twee tiendes van ‘n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die HERE, ‘n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, ‘n kwart hin. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke. 

Hierdie gedeelte moet saam gelees word met die gedeeltes wat handel oor die Pasga en Ongesuurde Brode aangesien hierdie drie feeste saam ‘n geheel vorm. Hierdie fees word gehou kort na die begin van Ongesuurde Brode, die dag na die weeklikse sabbat. Die volk van God word opgeroep om die eerste van hul oes, die eerstelingsgerf wat van die land gesny word, na die priester te bring wat dit weer voor God sal bring sodat die volk welgevallig (of aanneemlik) sal wees voor God. Daar is ‘n baie duidelike geestelike verloop aan die hand van hierdie drie feeste. Met Pasga word die lam (Jesus) geslag en die bloed word aan die huise (ons harte) aangewend as beskerming teen die (ewige) dood. Dit lei tot ‘n lewe van oorgawe waar daar elke dag gestreef word om sonder sonde (suurdeeg) te wees, net soos wat Jesus (die Lewende Brood) sonder sonde was. Hierdie lewe van oorgawe, sonder sonde, lei tot vrug, nie net vir ons self nie, nee, in die eerste plek vir God aangesien die eerste van die oes (eerste vrugte) aan Hom gegee word, maar ook vir ons naaste aangesien die rante van die land nie afgeoes mag word nie, maar vir die armes en die vreemdelinge gelos moet word.

Lev 23: 22 En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.

Ons geesvrug word terug gegee aan God, maar ook aan ons naaste sodat dit vir hulle tot vrug en lewe kan wees. Dit is alleen moontlik deur wat God vir ons gedoen het. Hy het Sy Seun as’t ware ‘geplant’ vir ons, in die aarde, waarna Hy ‘opgekom’ het as die eerstelingsgerf van die graanoes wat vir ons die Lewende Brood geword het. Kyk wat sê Paulus hieroor.

1 Kor 15: 20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. 

Al drie hierdie feeste is belangrik; in die eerste plek omdat God dit vir ons gegee het, maar dan ook omdat hulle almal heenwys na Jesus, ons Messias, en wat Hy vir ons bewerkstellig het. Hierdie feeste word vir ons ‘n lewenswyse in lyn met God se ritme, NIE ons ritme nie. God se kalenderprentjie lyk dan finaal as volg.

Die Fees van Eerste Vrugte (die eerstelingsgerf) is die dag na die weeklikse sabbat. Dit is die dag wat Jesus uit die dood opgestaan het; Hy, wat die eersteling is wat die dood oorwin het (vir ons). Niemand het Jesus sien opstaan nie, maar Hy het in alle waarskynlikheid die ‘Saterdagaand’ (volgens die hedendaagse tydsberekening) opgestaan wat in werklikheid (volgens God se tydsberekening) die eerste dag van die week is, die dag na die weeklikse sabbat. Drie dae en drie nagte pas nou mooi in, hoe dan anders, dis deur God so bewerk.

Die wêreld se Paasfees is ‘n verdraaiing van God se ritme en tydskaal en bring die wêreld nie by die volle goeie boodskap of evangelie nie, en word die evangelie van die koninkryk van die hemel gevolglik nie geleef nie. Hierdie verdraaiing het verder gegaan en afgodediens ingevoer; dink maar aan die paashaas en die paaseiers, waarop ons later verder sal ingaan, en wat onteenseglik ‘n heidense oorsprong het en nou vermeng is met God se feeste.

Is hierdie die volle evangelie, die volle goeie boodskap? Nee, allermins nie. God het sewe feeste en die vierde fees volg vyftig dae na Eerste Vrugte. Volgens die Woord staan dit bekend as die Fees van Weke, terwyl dit vandag algemeen bekend staan as Pinkster.

Lev 23: 15, 16, 21 Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring. … En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ‘n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ‘n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte. 

Deut 16: 9 – 11 Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel. Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën. En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, …

In die engels staan Pinkster bekend as Pentecost. ‘Pente’ is die griekse woord vir vyf, terwyl ‘Pentēkostē’ die griekse woord is vir vyftigste. Dit het alles te doen om vyftig dae te tel vanaf Eerste Vrugte; op die vyftigste dag is dit die fees van Weke. Dit is presies wat in ‘Wikipedia’ opgeskryf is.

Pentecost – Wikipedia

The Christian holy day of Pentecost, which is celebrated fifty days after Easter Sunday, commemorates the descent of the Holy Spirit upon the Apostles and other followers of Jesus Christ while they were in Jerusalem celebrating the Feast of Weeks, as described in the Acts of the Apostles (Acts 2:1–31).

Die Heilige Gees is uitgestort op die fees van Weke. Voor Jesus se hemelvaart was die Heilige Gees nog nie beskikbaar vir die gelowiges nie – Johannes maak dit vir ons baie duidelik.

Joh 7: 38, 39 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Jesus self het gesê dat Hy moet weggaan waarna Hy vir al die gelowiges/gehoorsames die Heilige Gees sal stuur.

Joh 16: 7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 

Wanneer ons in gehoorsaamheid aan Hom leef, deur Sy Seun (die Pasga Lam) as Verlosser te aanvaar en Sy bloed aan ons harte te wend, en as gevolg van hierdie oorgawe te streef na ‘n lewe sonder sonde (suurdeeg) en dan ons geesvrug (ons eerste vrug) aan Hom skenk, maar ook aan ons naaste, dan skenk Hy ons Sy Heilige Gees.

Hand 5: 32 … die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. 

Hierdie skenking van die Heilige Gees het in vervulling gegaan op die dag van die Fees van Weke (die pinksterfees), net soos wat die ander drie feeste – Pasga, Ongesuurde Brode, en Eerste Vrugte – letterlik op die dag in vervulling gegaan het.

Hand 2: 1 – 4 En toe die dag van die pinksterfees (fees van weke) aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 

Net soos wat die eerste vier feeste presies op die dag in vervulling gegaan het, net so gaan die oorblywende drie feeste, Trompette, die Groot Versoendag, en die Loofhuttefees, ook letterlik op die dag in vervulling gaan. As ons egter geen verwagting daarvoor het nie en nie in God se ritme en tydskaal is nie, dan staan ons die kans om, soos die vyf dwase diensmeisies, die koms van die meester en die bruilof te mis.

Die Heilige Gees is ons Trooster totdat Jesus weer kom. Jesus self het gesê dat Hy weer kom en daarom verwag ons Sy tweede koms.

Joh 14: 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

Die vyfde fees, wat volg op die fees van Weke, is die fees van Trompette. Dis ‘n rusdag waarop daar ‘n heilige samekoms van die gelowiges moet wees en is dit ‘n gedenkdag waarop basuine/trompette geblaas word.

Lev 23: 23 – 25 En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdagGéén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. 

Num 29: 1 En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees. 

Hierdie feesdag van God wys heen na die tweede koms van Jesus.

1 Tes 4: 16, 17 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 

Hierdie heilige, afgesonderde rusdag en feesdag word nie deur die Kerk gehou nie. Waarom nie? Hoekom is dit nie belangrik vir die Kerk nie? Dis iets wat jy vir jouself moet uitmaak; is Sy tweede koms belangrik vir jou? Dis belangrik vir God asook vir Jesus en wys heen na Sy tweede koms, ‘n gebeurtenis waarvoor ons wag en gereed moet wees.

Die sesde van God se feeste is die Groot Versoendag of Dag van Verootmoediging.

Lev 23: 26 – 28 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig … En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ‘n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God. 

Num 29: 7 En op die tiende van hierdie sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees, en julle moet julle verootmoedig; géén werk mag julle doen nie. 

Hierdie feesdag is ook ‘n heilige, afgesonderde vierdag en rusdag waarop daar ‘n heilige samekoms van die gelowiges/gehoorsames moet wees. Hierdie is ‘n baie belangrike dag en wys heen na die oordeelsdag waarop Jesus ons Hoëpriester/Voorspraak/Advokaat is, wat vir ons instaan by die Vader. Weens die versoening wat Hy vir ons bewerkstellig het is daar dus geen veroordeling vir ons nie; ons is vrygespreek.

1 Joh 2: 1, 2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 

Rom 5: 10, 11 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het. 

Heb 2: 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen

Hierdie dag/fees het nog nie in vervulling gegaan nie en moet ons dit vier. Dis sekerlik ‘n dag om te vier aangesien Jesus versoening vir ons gedoen het en steeds doen. Ons streef daarna om soos Jesus te wees, sonder sonde, maar ons is nie. Wanneer ons struikel en sondig het ons Jesus as ons Voorspraak by die Vader wat vir ons ‘n versoening vir die sonde is. Hoe kan ons anders as om dit nie te vier nie? Net soos die fees van Trompette word die groot Versoendag nie deur die Kerk gevier nie. Is Sy vesoening vir jou as sondaar belangrik en van waarde? Indien wel, kan jy nie anders as om in dankbaarheid hierdie fees tot eer van God en Jesus te vier nie.

Die sewende en laaste van God se feeste is die Loofhuttefees.

Lev 23: 33 – 36, 42, 43 En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE. Op die eerste dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Dit is ‘n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie. … Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God. 

Toe God sy volk uit die huis van slawerny (Egipte) gelei het, het hulle in die woestyn in hutte gewoon. Hierdie was tydelike wonings nadat hulle, deur God se werking deur middel van die Pasga, die lam, en die bloed aan die kosyne, uit die plek van sonde en slawerny getrek het oppad na die beloofde land. Net so word ons daaraan herinner, elke jaar wanneer ons hierdie fees hou, dat ons (deur dit wat Jesus, ons Lam, vir ons gedoen het) kon trek uit ons plek van sonde en slawerny en woon ons nou slegs in tydelike wonings hier op aarde totdat ons die beloofde land, die hemelse koninkryk, betrek.

Joh 14: 2, 3 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

Hierdie fees duur vir agt dae lank. Vir sewe dae word daar in hutte, of tydelike wonings, gebly waarna die agtste dag, ‘n rusdag, aanbreek. God het vir ons gesê dat ‘n dag vir Hom soos ‘n duisend jaar is en ‘n duisend jaar soos een dag. Doen bietjie self die somme en jy sal sien dat die aantal jare van Adam to Abraham ongeveer 2000 jaar was, van Abraham tot Jesus se eerste koms was ongeveer 2000 jaar, en van Jesus se eerste koms tot nou is ongeveer 2000 jaar. Sy tweede koms is op hande, dis nie meer lank nie, en daarna breek die 1000-jaar vrederyk aan. Hierdie is ‘n totaal van 7000 jaar of te wel 7 dae. Na die 1000-jaar vrederyk (die 7de dag) breek die ewigheid aan, waarvan die agtste dag ‘n simbool is. Jesus het gegaan om hierdie ewige woning vir ons voor te berei. Leef jy in die besef dag jou tyd hier op aarde maar net tydelik is en sien jy uit na jou ewige woning by God? Indien wel, hoekom hierdie fees van God ignoreer?

Een en elk van hierdie sewe feeste van God dui op Jesus en wat Hy vir ons, vir jou, gedoen het. God het Sy volk, toe Hy hulle verlos het van Egipte (die huis van slawerny) en daaruit uitgelei het, sewe feeste gegee. Hierdie feeste het toe te doen gehad met Sy fisiese verlossing van Sy volk, maar dit het ook heengewys na Sy geestelike verlossing van Sy volk. Soos Sy volk toe die evangelie of goeie boodskap geleef het, moet ons ook nou die evangelie leef deur die feeste te onderhou. Ons kan nie kieskeurig met God se feeste wees en net dié hou wat ons wil hou nie. Hoe verwaand is dit nie van ons nie. Ons is Sy volgelinge en daarom moet ons aan Hom gehoorsaam wees. Hy IS NIE ons volgeling nie. Ons kan nie die Woord verdraai om by ons oorgelewerde gebruike in te pas nie, nee, ons moet die oorgelewerde gebruike laat staan en aan Hom gehoorsaam wees.

In die tabel hieronder volg ‘n opsomming van die sewe feeste van God, Sy feeste. Elkeen van hierdie feeste het met Jesus te doen en opeenvolgend vertel hierdie feeste vir die wêreld die goeie boodskap of te wel die evangelie. Leef jy die evangelie? Jy kan net die evangelie van die koninkryk van die hemel leef as jy gehoorsaam is aan God en nie net sommige nie, maar elkeen van die feeste van God onderhou. Dit is belangrik vir God, dis deur Hom aan ons gegee, dit vertel die verlossingsboodskap – hoekom is dit dan nie belangrik vir jou nie? As dit wel belangrik vir jou is dan sal jy dit nie net hou nie, maar ook hou op Sy ritme en tydskaal soos wat Hy dit gegee het. As ons nie in lyn is met Sy ritme en tydskaal nie dan loop ons die gevaar om Hom te mis.

Laastens, dis baie belangrik om daarop te let dat ons hierdie feeste, die evangelie of goeie boodskap, nie na die fisiese Levitiese priesterorde hou nie (ten tye van Moses), maar na die geestelike Melgisedek priesterorde waarvan Jesus die Hoëpriester is.

Heb 7: 17 Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. 

Is die waarskuwing van Jesus ook hier ter sprake? As ons hart agter wêreldse feeste aanloop en daaraan verknog is eerder as God se feeste, dan is die waarskuwing van Jesus sekerlik van toepassing.

Mat 7: 21-23, “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Kom ons kyk vervolgens hoe heidense gebruike aanleiding gegee het tot hoe twee van die wêreld se belangrikste feeste, Kersfees en Paasfees, vandag gehou word. Met hierdie inligting tot mens beskikking is die keuse ons s’n, kom ons voor God suiwer, na Sy hart, na Sy wil, of wil ek my gewoontes aan Hom opdring?

Kersfees

https://en.wikipedia.org/wiki/Christmas

Die eerste gedokumenteerde viering van Kersfees was in Rome op 25 Desember 336 AD gedurende dit tyd van die Romeinse keiser Konstantyn. Die Roomse kerk het die datum vasgemaak op 25 Desember in die 4de eeu en stem dit ooreen met die wintersonstilstand van die Noordelike halfrond, die kortste dag van die jaar.

https://www.britannica.com/story/why-is-christmas-in-december

Gedurende die 3de eeu het die Romeinse ryk die hergeboorte van die Onoorwonne Son (Sol Invictus) gevier op 25 Desember. Dit het direk gevolg op die fees ‘Saturnalia’ wat gevier is op 17 Desember en vir ‘n volle week (7 dae) aangehou het. Hierdie fees is gevier tot eer van die Romeinse god Saturnus en is gekoppel aan die winter saaiseisoen. Hierdie fees het gepaard gegaan met groot feesviering en die uitruil van geskenke, en is sekere morele beperkinge tydens hierdie fees tydelik opgehef.

Dit is alom bekend dat Jesus nie gebore is op 25 Desember nie, maar hierdie belangrike heidense datum het die dag geword waarop die geboorte van Jesus gevier is. Dit is baie duidelik dat die ‘geboortedag’ van Jesus gekoppel is aan heidense gebruike en feesdae/tydperke.

https://en.wikipedia.org/wiki/Christmas_tree

Volgens Wikipedia kan die eerste voorstelling van die kersfeesboom teruggedateer word na 1576 in Duitsland, waartydens die boom versier is met appels (‘n simbool van die verbode vrug) en plat ronde broodjies (‘n simbool van verlossing) wat gebruik is in die Roomse kerk. Die gebruik van appels is later vervang met blink rooi balle. Die gebruik van immergroen bome as ‘n simbool van die ewige lewe was algemeen onder die antieke Egipternare, Chinese en Hebreërs. Hierdie gebruik van die versierdie boom deur heidene, ‘n gebruik wat nie na die hart van God is nie, kan egter baie verder teruggedateer word. Sien wat sê die Woord van God hieroor:

Jer 10: 2 – 4 So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. 

Volgens God self is hierdie insetting van die volke, om ‘n boom uit die bos uit te kap, dit regop staan te maak, en dit te versier, nietigheid. ‘n Mens kan nie heidense gebruike meng met jou aanbidding van God en dit voorhou as goed nie. Dis nie goed vir God nie. Ons kan nie ons gebruike (met heidense wortels) op Hom afdwing nie, Hy val nie daarvoor nie, want Hy is ‘n jaloerse God. Ons moet Sy gebruike aanvaar en doen. “So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie …”

Paasfees

Paasfees, Easter in Engels, gaan elke jaar gepaard met paaseiers asook die paashaas. Wat het ‘n eier en ‘n haas met die sterwe en opstanding van Jesus te doen? Waar kom dit vandaan? ‘n Opsomming van die volgende bron sal dit duidelik maak hoe heidens hierdie gebruike is.

https://www.lanternclub.com.au/blog/origin-easter-bunny-easter-traditions/

Die heidene het ‘Ishtar’ gevier waarop daar ook ‘n opstanding plaasgevind het. Semiramus was ‘n koningin van Babilon. Nadat haar man oorlede is het sy met haar enigste seun getrou, Nimrod. Hy is ook oorlede en is haar man en seun verewig in die vorm van die songod Baal. Volgens oorlewering het Semiramus swanger geword deur die strale van die son, Baal, en is ‘n seun gebore met die naam van Tammus. Tammus het baie van hasies gehou en is hasies as heilig verklaar deur Semiramus. Hy is uiteindelik ook dood en is verewig saam met sy pa as die songod. Volgens oorlewering het Semiramus van die maan gekom in ‘n groot eier wat in die Eufraat rivier geval het. Dit het gebeur op die eerste volmaan na die lente-ewening van die noordelike halfrond, en val dit saam met Paassondag. Hierdie eier het bekend geword as ‘Ishtar’s egg’ of die ‘Easter egg’ (die paaseier).

Die aanhang van Tammus asook die aanbidding van die songod, Baal, het hoogty gevier na die Jode se terugkeer vanuit Babilon waar hulle in ballingskap was. Dis hier waar hulle onder die invloed van die Babiloniese gode gekom het. Die aanhang van Tammus en die aanbidding van die songod, Baal, was en is steeds vir God ‘n groot gruwel. Kyk wat sê God self hieroor:

Eseg 8: 13 – 16 En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen. Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die HERE, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste

Die volk van God het ‘n Babiloniese god, Tammus, aangehang en hul rug gedraai op sy tempel en die son (songod) aanbid. Hierdie Babiloniese afgodery sien ons vandag nog in die vorm van paaseiers en die paashaas wat onlosmaaklik deel geword het van Paasfees.

Kan ons onsself ophou met gruwels en God so aanbid? Weereens, forseer ons ons gebruike af op God of gaan ons ons rug daarop draai en Hom aanbid soos wat Hy aanbid wil word? Gaan ons ons wil op Hom afforseer of gaan ons Sy wil doen? Elkeen gaan verantwoording doen vir sy/haar dade en gebruike. Die wêreldse feeste het ‘n heidense oorsprong en is nie gebore vanuit die hart van ons Vader nie. Dis nie God se hart en wil vir ons nie. Hy is ‘n jaloerse God en kan ons nie voor Hom kom met mengsels nie. Die keuse is ons s’n. Kom ons voor God met dit wat die vyand gesaai het, of kom ons voor God onvervals, na die hart van die Vader, in gehoorsaamheid aan Jesus?

Bron:

Chuck Missler, Hidden Treasures in the Biblical Text, Koinonia House, January 2000