Jesus, Lam van God ... Die Implikasies
In die vorige gedeelte, getiteld ‘Jesus, die lam van God … hoekom?’, het ons gesien dat Yahuwsha, die Seun van God, wetlik moes sterf in lyn met die bepaling van die verbond wat Yahuwah met Abraham en sy nageslag aangegaan het. ‘n Verbond wat Yahuwah nagekom het, maar wat Abraham se nageslag op die lang duur nie nagekom het nie en uiteindelik, na herhaardelike waarskuwings deur die profete, verbreek het. Ten tye van Yahuwsha se koms na die aarde was die huis van Israel, die tien noordelike stamme (ook bekend as Efraim), weens hul dwaling en die verbreking van die verbond, alreeds vir 720 jaar in die verstrooiing tussen die nasies. Met Yahuwsha se koms was dit slegs die huis van Juda (die Jode) wat nog in die beloofde land, die verbondsland, woonagtig was. Hulle sou eers op ‘n latere stadium hul reg tot die verbondsland verloor, en uit die verbondsland gesit word, weens hul verbreking van dieselfde verbond. Yahuwsha se bediening van die Woord en die evangelie (die goeie nuus), dat Hy gekom het as die Lam van God om die plek in te neem van Abraham se nageslag, het uit die aard van die saak geskied onder die Jode, die huis van Juda. Sy dissipels moes, in opdrag van Yahuwsha, met hierdie bediening van die goeie nuus (die evangelie) voortgaan en sorg dat die verlore skape van die huis van Israel daarby ingesluit word.
Mat 10: 5, 6 Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.
Hy bevestig later, weer by monde van Mattheus, die doel van Sy ‘sending’:
Mat 15: 24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.
Yahuwsha is inderdaad gestuur deur die Vader om te voldoen aan die wetlike vereiste van die verbond wat gesluit is met Abraham en sy nageslag. Die verbreking van hierdie verbond vereis dat die skuldige party moet sterf en dat bloed moet vloei. Aangesien God (Yahuwah) ingestaan het vir die nageslag van Abraham, tydens die sluiting van hierdie verbond, moes God (Yahuwah) sterf en Sy bloed vloei as gevolg daarvan dat die nageslag van Abraham hierdie verbond verbreek het. Yahuwah sou egter nie ingestaan het vir Abraham en sy nageslag as dit nie deurentyd Sy plan was om weer met hulle in verhouding te staan nie. Sy hart was en is om weer met hulle in verhouding te staan. Yahuwsha is dus nie net gestuur om te sterf volgens die bepaling van hierdie verbond nie, MAAR ook om op te staan en die dood te oorwin, want daardeur kan die nageslag van Abraham (die verlore skape van die huise van Israel en Juda) weer in verhouding met God kom deur die vernuwing/herstel van hierdie verbond. Die verlore skape van die huise van Israel en Juda kan nou weer na die Vader kom en in verhouding met Hom staan deur dit wat Yahuwsha gedoen het (Sy sterwe en opstanding). Dis daarom dat Yahuwsha die volgende bekende woorde gespreek het:
Joh 14: 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Om deur Yahuwsha na die Vader te gaan is ‘n verbondsroete en het alles te doen met die verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Die verbond is verbreek, deur die nageslag van Abraham, maar God wil die verbond herstel. Ons kan ook sê, die verhouding is verbreek, maar God wil die verhouding herstel, sonder om afbreek te doen aan die woord ‘verbond’ aangesien ‘n verbond ‘n ernstige saak is en dit bepaalde wetlike implikasies inhou (soos ons reeds gesien het). Dit is egter meer as net ‘n verhouding; in God se oë is dit niks anders as ‘n huwelik nie aangesien ‘n huwelik ook ‘n verbondsluiting is waar bloed vloei en die man en die vrou een word. Hy wil met ons in ‘n huweliksverhouding (of huweliksverbond) staan, sodat ons alleen na Hom sal hunker en een met Hom kan wees. God (die bruidegom) het sy bruid (die huis van Israel en die huis van Juda) lief, maar sy het gehoereer en agter ander mans (heidense nasies en hul goddelose gebruike) aangeloop. Weens hierdie feit, dat God se volk ontrou was en gehoereer het, het God aan haar ‘n skeibrief gegee.
Jer 3: 8 En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel (hoerery) van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.
Hierdie handeling van God, wat altyd optree in lyn met Sy Woord/wet, is heeltemal in lyn met die wet wat bepaal dat ‘n skeibrief gegee kan word slegs op grond van hoerery.
Deut 24: 1 As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,
Omdat Yahuwsha die Woord is het Hy hierdie Waarheid, rakende die enigste rede vir egskeiding, aan die mense bevestig.
Mat 5: 31, 32 Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Dis presies wat met die volk van God gebeur het – daar was iets skandeliks aan Sy volk, naamlik hoerery, en is Sy volk uit die verbondsland (of verbondsverhouding) weggestuur, die verstrooiing in. Weens die nageslag van Abraham, die volk van God, se verbreking van die verbond (die huweliksverbond), moes Yahuwsha sterf weens die wetlike vereiste/bepaling van die verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Yahuwsha het egter die dood oorwin en opgestaan sodat Hy weer met ons in
verhouding kan staan. Wat die volk (bruid) aan betref is dit egter nie so eenvoudig nie; die volk kan nie maar net gewoon weer terugkom in die verhouding in nie, aangesien sy steeds wetlik verbind is aan haar ‘nuwe man’ (deur hoerery), die ‘man’ met die naam van ‘sonde’ (as gevolg van die oortreding van die verbondsbepalings – die gebooie, verordeninge en insettinge). Daar is ‘n
bepaalde handeling waardeur die volk of bruid moet gaan alvorens sy weer met God verenig kan word in ‘n herstelde huweliksverbond. Kyk wat bepaal die wet (Sy Woord):
Deut 24: 1 – 4 As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur, en sy uit sy huis uittrek en weggaan en ‘n ander man s’n word, en dié laaste man haar haat en haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur, of as dié laaste man sterwe wat haar vir hom as vrou geneem het — dan mag haar eerste man wat haar weggestuur het, haar nie weer neem, dat sy sy vrou word nadat sy onrein geword het nie; want dit is ‘n gruwel voor die aangesig van die HERE, …
Dis hierdie gebod/voorskrif wat die kruks is van die evangelie boodskap. Hierdie gebod geld nie net vir die verhouding tussen ‘n aardse man en aardse vrou nie, nee, dit geld ook vir die verhouding tussen God en Sy volk/bruid. God, die volk se ‘eerste man’, kan die volk nie gewoon maar net terugneem nie, want sy (die volk) is onrein aangesien sy ‘n sielsband gesluit het (weens hoerery) met haar minnaar (die sonde). Die vraag is dus nou, hoe kan die volk teruggaan na God? Die volk moet deur God rein verklaar word, verlos van die sielsband met haar minnaar (die sonde) alvorens sy deur God teruggeneem kan word as bruid. Paulus, in sy brief aan die Romeine, spel vir ons presies uit (aan die hand van die Woord in Deut 24: 1 – 4) hoe hierdie proses werk ten einde deur God rein verklaar te kan word en deur Hom teruggeneem te kan word.
Rom 7: 1 – 4 Of weet julle nie, broeders want ek spreek met mense wat die wet ken dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie? Want die getroude vrou is deur die wet (Deut 24: 1 – 4) aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. Daarom dan, as sy ‘n ander man s’n word terwyl haar man (haar eerste man) lewe, sal sy ‘n egbreekster genoem word; maar as die man (haar eerste man) sterwe, is sy vry van die wet (die wet van die man, Deut 24: 1 – 4), sodat sy nie ‘n egbreekster is as sy ‘n ander man s’n word nie. So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet (van die man) dood deur die liggaam van Christus, om aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.
Die wet van die man (Deut 24: 1 – 4) bepaal dat daar ‘n sielsband tussen die eerste (wettige) man en vrou bestaan sodat die vrou nie ‘n ander man se vrou kan word terwyl haar eerste man steeds leef nie. Solank as wat haar eerste man in die lewe is, asook die vrou, bly die (wettige) sielsband in plek. As haar eerste man egter sterf is sy ontslae van die (wettige) sielsband wat geheers het, en is sy vry om aan ‘n ander te behoort. As sy egter ‘n (onwettige) sielsband sluit terwyl haar eerste (wettige) man steeds leef, kan sy nie deur haar eerste (wettige) man teruggeneem word nie aangesien daar nou ook, buiten die wettige sielsband, ‘n onwettige sielsband in plek is. In die vlees is hierdie terugneem proses nie moontlik nie, maar in die gees is dit wel. Die vrou moet sterf en so die sielsband tussen haar en haar minnaar (die sonde) verbreek. Paulus maak dit vir ons baie duidelik dat dit gedoen word deur die liggaam van Yahuwsha, die Lam van God, wat dit vir ons moontlik maak om deur die doop saam met hom te sterf en begrawe te word (onder die water), maar dan ook weer saam met Hom op te staan vanuit die dood en so die minnaar (die sielsband met die sonde) af te lê. Ons is nou dood vir die minnaar (die sielsband met die sonde) en dood vir die bepaling/uitwerking van die wet (aangesien ons gesterf en opgestaan het in ‘n nuwe lewe); ons kan nou teruggeneem word deur God.
Kol 2: 12 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
Rom 6: 3, 4, 6 – 8, 11 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. … aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde (ons minnaar) sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde (ons minnaar). As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, … So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde (die vorige minnaar) dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
Dit is baie duidelik – deur die doop (begrawe onder die water) is ons nou wetlik dood vir die sonde (ons vorige minnaar), maar ons is lewend (opgestaan vanuit die doop/dood) vir God. Deur die doop vereenselwig ons onsself met die dood van Yahuwsha, maar ons vereenselwig ons ook met die opstanding van Yahuwsha om in ‘n nuwe lewe te kan leef. Die sielsband met ons vorige minnaar (die sonde) is nou verbreek deur die doop/dood, en kan ons nou deur God teruggeneem word nadat ons opgestaan het vanuit die dood/doop – heeltemal in lyn met die Woord. Hierdie proses is niks anders as wedergeboorte nie. Deur die doop is die nageslag van Abraham nou verlos van die sielsband met die sonde (haar vorige minnaar) om weer aan haar oorspronklike ‘man’ te behoort. Hierdie proses is ‘n wetsproses, heeltemal in lyn met die wet/Woord van God. As dit nie vir die wet/Woord was nie, was daar vir ons geen weg terug na God nie! Daarom dan die verskeie oproepe, asook opdrag deur Yahuwsha self, om gedoop te word tot redding (tot wedergeboorte):
Mar 16: 15, 16 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.
Hand 22: 16 En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
1 Pet 3: 18 – 21 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, …
Joh 3: 3 – 6 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Hoe kan ons hieraan ongehoorsaam wees? Ons het geen keuse as om in gehoorsaamheid ons te laat doop in die dood van Yahuwsha, die Lam van God, begrawe in die graf van water, sodat ons in die gees saam met Hom kan opstaan vanuit die dood (die watergraf) in ‘n nuwe wedergebore lewe verlos van ons vorige minnaar, die sonde. Nou is alles wetlik in plek sodat God Homself weer kan verloof aan Sy volk, wat uiteindelik gaan uitloop op ‘n bruilof.
Hos 2: 12 – 16, 18, 19 So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die HERE. Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het. En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie. … En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.
Jes 62: 5 … en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
Opb 21: 9 En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.
Yahuwsha het na Homself verwys as die bruidegom, terwyl ons soos die maagde (die bruid) moet wees wat op Hom wag.
Mat 25: 1 – 13 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.
Wees asseblief gewaarsku! Deur die doop (geestelike sterwe en opstanding; wedergeboorte) is ons nie nou so verlos van die wet (van die man) om te doen net wat ons wil nie, nee, dieselfde wet wat bepaal dat een party moet sterf, ten einde die sielsband te breek, bepaal ook dat die vrou nou deur haar oorspronklike man teruggeneem kan word. Wanneer ‘n fisiese/aardse vrou se fisiese/aardse man sterf is sy vry (van die wet van die man) om weer te trou en wanneer sy weer trou is sy nie nou so ‘verlos’ dat sy in hierdie nuwe verhouding maar net kan doen wat sy wil nie. Nee, sy staan nou weer binne ‘n verbond, gebonde aan die ‘wet van die man’ (van haar nuwe, wetlike man), en kan sy steeds nie hoereer met ander mans terwyl sy getroud is (met haar tweede man) nie. Een en dieselfde wet geld; om te hoereer is steeds sonde. Dit het nie nou verander en ewe skielik nie sonde geword nie.
Hierdie gedeelte van die wet waarna Paulus verwys in Rom 7: 1 – 4 is NIE verteenwoordigend van al Yahuwah se voorskrifte nie, maar is slegs van toepassing op die voorskrifte/wet van die man soos wat ons dit vind in Deut 24: 1 – 4. Dit baan die weg vir ons om weer in verhouding met God te staan deur Yahuwsha – die Weg, die Waarheid en die Lewe – die Lam van God.
Hoe staan ons dan nou in verhouding met Hom? Los van die wet? Nee, ons dien Hom nou in die nuwigheid van die gees (van die wet) en nie in die letter (van die wet) nie, want ons is wedergebore uit gees en nie vanuit die vlees nie.
Joh 3: 5, 6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Rom 7: 6 … ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
Wat beteken dit? Hoekom die nuwigheid van die gees en nie die letter van die wet nie? Dieselfde voorskrifte/wet is nou geskryf op die tafels van ons hart (in ons gees) en nie op tafels van klip (buite onsself) nie. Wanneer ons gebore is vanuit die vlees (ons eerste geboorte) dan kyk ons na die wet met vleesoë, maar wanneer ons gebore word vanuit die gees (ons wedergeboorte, begrawe onder water en die opstaan vanuit die water) dan kyk ons na dieselfde wet met geesoë.
Ten einde hierdie te verstaan kan ons kyk na wat Yahuwsha self hieroor gesê het:
Mat 5: 17 – 19 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.
Volgens die Polyglot Septuagint, die oorspronklike Grieks Engelse vertaling, is die woord wat as ‘vervul’ vertaal is, die Griekse woord ‘plëroö’ (plhrow). Die Strong’s woordeboek gee die volgende betekenis aan hierdie Griekse woord: ‘(literally) to cram a net’, of, ‘to level (a hollow)’, dit is, ‘to fill (up)’. Die betekenis van hierdie woord is dus om ‘vol te maak’ of ‘op te vul’. Die net word stampvol gemaak met vis, of die gat in die grond word vol gemaak met grond. Mat 5: 17 moet dus eintlik as volg lees:
Mat 5: 17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om vol te maak (of, op te vul).
Wat beteken dit? Hoe het Yahuwsha die wet kom vol maak? Ons het reeds gesien dat, volgens die ‘Ou’ en ‘Nuwe’ Testament, die wet aan die einde van dae nie meer op tafels van klip geskryf sal wees nie, maar op die tafels van ons hart (vir die wat glo). Ons leef dus nie meer volgens die letter van die wet nie, maar volgens ‘n geestelike verstaan van die wet. Yahuwsha het Mat 5: 17 – 19 direk opgevolg met ‘n paar voorbeelde van wat hy daarmee bedoel het.
Mat 5: 20 – 22 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
Die gebod dat jy nie mag doodslaan nie, vind ons in Exodus 20 as deel van die Tien Gebooie.
Ex 20: 13 Jy mag nie doodslaan nie.
Die letterlike verstaan van hierdie gebod is dat jy nie mag moord pleeg nie; jy mag nie die lewe in ‘n persoon se vlees/liggaam tot ‘n einde bring nie. Die geestelike verstaan van hierdie gebod is dat jy nie ‘n persoon in sy/haar gees moet krenk of doodmaak deur die woorde wat by jou mond uitkom nie. Dit is hoe Yahuwsha hierdie gebod opgevul of vol gemaak het. Ons mag nie moord pleeg nie, nie fisies nie en ook nie geestelik nie.
Yahuwsha gaan verder en gee nog ‘n voorbeeld:
Mat 5: 27 – 28 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Die gebod dat jy nie mag egbreek nie, vind ons ook in Exodus 20 as deel van die Tien Gebooie.
Ex 20: 14 Jy mag nie egbreek nie.
Die letterlike verstaan van hierdie gebod is dat jy nie seksuele omgang mag hê met ‘n persoon anders as jou man of vrou terwyl jy getroud is nie. Die geestelike verstaan van hierdie gebod is dat jy nie na ‘n vrou mag kyk en in jou hart haar begeer nie. Volgens Yahuwsha is dit dieselfde as om fisies egbreek te pleeg. In jou gees en siel is jy dan verkleef aan hierdie vrou. Dit is hoe Yahuwsha hierdie gebod opgevul of vol gemaak het. Ons mag nie egbreek pleeg nie, nie fisies nie en ook nie geestelik nie.
Yahuwsha gaan verder en gee nog ‘n paar voorbeelde. Lees die res van Mattheus 20 om te sien hoe Yahuwsha die wet volgemaak het, of opgevul het, deur die mens se hart/gees daaraan te koppel. Nie net het Yahuwsha hierdie waarheid met ons gedeel nie, maar het Paulus presies dieselfde gedoen. Hy het ook vir ons ‘n voorbeeld gegee van hoe die wet nou ook ten opsigte van die gees gelees en verstaan moet word.
1 Kor 9: 7 – 11 Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?
Hierdie gebod aangaande die os wat nie gemuilband mag word terwyl dit graan dors nie, vind ons in die ‘Ou’ Testament in Deuteronómium.
Deut 25: 4 Jy mag ‘n os nie muilband as hy graan dors nie.
Paulus herhaal hierdie hoër geestelike verstaan van die Skrif in sy skrywe aan Timótheüs.
1 Tim 5: 17, 18 Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.
Paulus motiveer die betaling van geestelike arbeiders aan die hand van ‘n ‘Ou’ Testamentiese gebod. Terwyl die os werk moet hy kan eet. Net so enige arbeider; hy/sy moet ‘n lewe kan maak vanuit die werk wat hy/sy doen. Dit is sekerlik nou baie duidelik. Ons kan nie ons rug keer op die ‘Ou’ Testament asof dit opgehef is nie; Paulus het nie. Nee, Yahuwsha is die volheid van die wet, Hy is NIE die einde (die end of opheffing) van die wet NIE! Die wet het nou ‘n geestelike dimensie bygekry (geskryf op die tafels van ons hart), waar dit in die verlede nie so verstaan is nie (alleen geskryf op tafels van klip; vandag, woorde op papier).
Rom 7: 14 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.
Waar daar voorheen ‘n fisiese of letterlike verstaan van die wet was (geskryf op tafels van klip, of op papier), het ons nou ‘n hoër geestelike roeping tot gehoorsaamheid van die wet (geskryf op die tafels van ons hart). Die wet is geestelik. Nou hoekom ontslae raak daarvan? Dat die wet geskryf gaan word op die tafels van ons harte (vir dié wat glo) word geprofeteer deur Jeremia (‘Ou’ Testament) en later word dit woord vir woord bevestig deur die skrywer van die brief aan die Hebreërs (‘Nuwe’ Testament).
Jer 31: 31 – 33 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs bevestig hierdie waarheid omtrent woord vir woord:
Heb 8: 8 – 10 … Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
Heb 10: 15, 16 En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,
Hierdie Waarheid word egter vandag verkeerd geïnterpreteer en word daar gevolglik vandag algemeen aanvaar dat die wet glad nie meer geldig is nie en dat ons nou vry/los van die wet is, nie meer onder die wet nie, en dat ons derhalwe die wet nie hoef te onderhou nie? Dit is baie jammer, want ons mis uit op Abba Yahuwah se plan vir ons deur die werking van Sy Seun Yahuwsha. Hy wil ons herstel na die verhouding wat hy met die mens in die tuin gehad het, waar die mens met Hom gewandel het in gees, siel en liggaam wat anders was as nou waar die mens se wandel is na vlees/liggaam, siel en gees (as gevolg van sonde). Die hoof oorsaak van hierdie verkeerde interpretasie is die verkeerde verstaan van sommige van Paulus se briewe, en word hy veral aangehaal, aan die hand van sy brief aan die Romeine, om hierdie ‘verwronge’ standpunt te huldig en te staaf.
Rom 6: 14 … julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
Wanneer Paulus skryf dat ons onder die genade is, en nie meer onder die wet nie, wat beteken dit? Verstaan ons Paulus reg as ons beweer dat die wet nou totaal ongeldig is en dat ons ons nie daaraan hoef te steur nie aangesien God se ‘genade’ alles is? Dit is baie belangrik dat ons dit reg verstaan aangesien dit bepalend is vir ons dien van God in die nuwigheid van die gees (van die wet) en nie die oudheid van die letter (van die wet) nie. As ons dit mis dan mis ons uit op die nuwe/hernude verbond wat God met ons wil aangaan volgens Jer 31: 31 – 33 en Heb 8: 8 – 10 en gaan die wet van God nie geskryf wees op ons hart nie en kan ons God nie dien in die nuwigheid van die gees nie.
Kom ons kyk wat sê Paulus self oor die wet. Volgens Paulus is die waarheid in die wet:
Rom 2: 20 … die waarheid in die wet …
Aangesien die waarheid in die wet is, weet ons wat sonde is:
Rom 3: 20 … deur die wet is die kennis van sonde.
Rom 7: 7 … ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; …
Paulus skryf, in sy brief aan die Romeine, dat almal onder die sonde is aangesien niemand regverdig is of goed doen nie:
Rom 3: 9 – 12 Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
Hierdie is nie Paulus se eie woorde nie, nee, Paulus haal hier die ‘Ou’ Testament aan, hy haal Dawid aan aan die hand wat hy geskryf het in Psalm 14 en 53:
Ps 14: 1 – 3 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.
Ps 53: 1 – 4 Vir die musiekleier; op die wysie van: “Máhalat.” ‘n Onderwysing van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie. God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
Aangesien daar niemand is wat goed doen of regverdig is nie, is almal onder die sonde en derhalwe is almal onder die wet omdat die waarheid in die wet is (Rom 2: 20) en die kennis van sonde deur die wet is (Rom 3: 20; 7: 7).
Rom 3: 19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
Almal, die hele wêreld, is doemwaardig voor God oor alles wat die wet sê (die waarheid en die kennis van sonde) en daarom is almal onder die wet. Voordat Yahuwsha gekom het en Homself gegee het as offer, in die plek van Abraham se nageslag, is die volk in ‘bewaring’ gehou onder die wet (volgens die letter van die wet).
Gal 3: 23 Maar voordat die geloof (tot wedergeboorte) gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, …
Na die sterwe en opstanding van Yahuwsha is alle mense steeds onder die wet. Die mens moet eers sy/haar keuse maak aangaande die Lam van God as offer. Die enigste manier om onder die ‘bewaring’ van die wet uit te skuif is om in geloof die offer van Yahuwsha, as Lam van God (in ons plek), te aanvaar. Ons laat ons doop, om te wys dat ons hierdie offer aanvaar, en sterf ons saam met Yahuwsha (in die graf van water), maar staan ons ook saam met Hom op in ‘n nuwe lewe vrygemaak van die wetlike band met ons vorige ‘man/minnaar’, die sonde. As ons dit nie doen nie dan is ons steeds onder die wet en moet die vloek van die wet sy gang gaan; ons staan dus onder die vloek van die wet. As ons Yahuwsha se offer aanvaar en gedoop word (sterf en opstaan, dit wil sê wedergebore), dan rus die vloek van die wet nie meer op ons nie aangesien Yahuwsha dit op Homself geneem het, in ons plek (soos wat die diere gekloof is en waardeur God beweeg het en nie die mens nie).
Gal 3: 13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
Let baie mooi op! Deur Yahuwsha se sterwe in ons plek het Hy ons losgekoop van die vloek van die wet. Hy het ons nie losgekoop van die wet nie. Yahuwsha is die Woord van God (wat die wet insluit) wat vlees geword het. Hy kan/gaan ons nie loskoop of losmaak van Homself nie. Deur die doop in Sy dood is ons vry van die uitwerking van ongehoorsaamheid (die vloek) van die wet. Ons is nou dood vir die wet, vir die uitwerking/vloek van die wet, deur die doop, en kan die straf/vloek van die wet wat my toegekom het voor die doop/dood nie meer op my voltrek word nie.
Gal 2: 19, 20 want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe. Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Wanneer ons onsself laat doop (in Yahuwsha se dood) aanvaar ek dat die vloek (van die wet), wat my moes toekom, op Hom gegaan het. Ek het dus gesterf saam met Yahuwsha en kan geen straf vir enige toekomstige sonde op my voltrek word nie aangesien ek reeds gesterf het. Alle toekomstige sondes aan my kant het op Yahuwsha gegaan (indien ek dit bely). Dis die geloof waarin ek lewe. Dis hoekom Paulus die volgende woorde geskryf het:
Gal 2: 19 … deur die wet is ek vir die wet dood …
‘Deur die wet’, met ander woorde die wetlike vereiste van die wet dat ek moet sterf, sterf ek deur die doop in die dood van Yahuwsha en kan die straf/vloek van die wet nie meer op my voltrek word nie (want ek het gesterf) en daarom ‘is ek vir die wet dood’. Hoe kan die straf of vloek dan op iemand voltrek word wat reeds gesterf het? Dit kan nie!
As ek egter nie in die geloof lewe, ten opsigte van die sterwe en opstanding van Yahuwsha in my plek nie, en ek my nie laat doop in Sy dood en opstanding nie (volgens die gees), en ek wil steeds volgens die letter van die wet leef, met ander woorde ek wil al die wetlike vereistes nakom as die weg tot saligheid, dan is ek steeds onder die vloek van die wet want ek wend my tot die werke van die wet:
Gal 3: 10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
Ek het dus geen keuse as om in die geloof van die werking van God (die dood en opstanding van Yahuwsha, volgens die gees) te leef nie, want daar is geen wet of gebod gegee (volgens die letter) wat ons lewend kan maak van die dood wat die nageslag van Abraham toekom as gevolg van die verbreking van die verbond wat God met Abraham en sy nageslag (wat ons insluit) aangegaan het nie.
Gal 3: 21 … Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.
Die wet was dus letterlik die volk (en ons) tugmeester na Yahuwsha toe en is die volk onder die wet in bewaring gehou (teen sonde). Nou dat die geloof in die dood en opstanding van Yahuwsha (na die gees) gekom het is ons nie meer onder hierdie tugmeester (na die letter) nie.
Gal 3: 23 – 25 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
Beteken dit dan nou dat die wet nie meer van toepassing is nie en dat ek my glad nie meer daaraan moet steur nie? Glad en geheel al nie! Die wet en gebooie is bygevoeg sodat die sonde meer sondig kon word en deur die wet is die kennis van sonde. Hoe kan ek dan in sonde leef en terselfdertyd ook in die geloof van die dood en opstanding van Yahuwsha?
Rom 3: 20 … want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom 5: 20 … die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; …
Rom 7: 13 … sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.
Wanneer ons nou egter sondig (teen die wet wat geskryf is op die tafels van ons hart) het ons ‘n Voorspraak by die Vader wanneer ons ons sonde bely.
1 Joh 1: 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1 Joh 2: 1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.
Die opdrag is duidelik – ons moet nie sondig nie. Die vraag is dan nou, ‘wat is sonde, waarteen sondig ek …?’ Ek sondig teen Sy wet wat geskryf is op die tafels van my hart.
As Sy wet dan geskryf is op die tafels van my hart, hoekom word Paulus dan aangehaal (aan die hand van Rom 10: 4) as om te sê dat dat die koms, sterwe en opstanding van Yahuwsha die opheffing van die wet van God tot gevolg gehad het en dat ons niks meer daarmee te doen hoef te hê nie?
Rom 10: 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
Met die eerste lees hiervan sou ‘n mens se eerste oortuiging wees dat Yahuwsha die ‘einde’ van die wet is; dat Hy die wet opgehef het, en dat ek nie meer iets daarmee te doen hoef te hê nie. Hier staan tog baie duidelik ‘Christus is die einde van die wet’. Dit is egter nie so ‘eenvoudig’ nie. Kom ons kyk gou wat Jakobus vir ons skryf oor die ‘proses van lyding’ wat Job deurgegaan het.
Jak 5: 11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel
van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.
Job het ‘n baie erge lyding beleef en deurgegaan. Sy vrou het doodgegaan, sy kinders het doodgegaan, sy vee het doodgegaan, en het daar allerhande swere op sy liggaam uitgebreek. Hy het alles verloor waarvoor hy lief was en omgegee het en asof dit nie genoeg was nie toe voel hy dit ook aan sy lyf. Hy was so ‘afgebreek’ dat hy die dag waarop hy gebore was vervloek het. Sy vriende het gedink hy het gesondig en is hyaangeraai om God te vervloek, maar hy het aan God bly vashou en Hom nie gelos nie. Die Satan kon hom nie tot so ‘n mate afbreek dat hy God vervloek en sy vertroue in Hom verloor nie. Toe Job vêr deur hierdie lydingsproses was en steeds aan God vashou, en Hom bly vertrou, het God hierdie lyding van hom weggeneem en hom tot so ‘n mate daarvan verlos en herstel dat hy meer geseënd was as vantevore. Dit was die einddoel van God met die lydingsproses wat Job moes deurmaak (soos wat Jakobus vir ons skryf).
Raadpleeg ‘n mens die bybelprogram eSword asook die Polyglot Septuagint, die oorspronklike grieks/engelse vertaling van die bybel, dan sien mens dat die woord einde (in Rom 10: 4) en die woord einddoel (in Jak 5: 11) altwee presies dieselfde griekse woord is, maar in afrikaans is dit as twee verskillende woorde vertaal. In die grieks is dit die woord ‘telos’ (teloz) en gee die Strong’s woordeboek die volgende vertaling of betekenis daarvan.
Strong’s 5056: ‘telos’ (teloz) Þ ‘to set out for a definite point or goal; the point aimed at as a limit’.
Ons sien dus dat die woord ‘telos’, of dan nou eind(e) of eind(doel), dui op ‘n doel of punt wat voor jou lê en wat bereik moet word. Dit is die punt of doel wat bereik moet word aan die einde van ‘n proses of pad wat gestap word. Dit was dan presies die geval met Job. Hy het ‘n lydingsproses deurgegaan waarvan hy nie die einde kon sien nie, maar God het die einde daarvan gesien nog voor Job in die proses ingegaan het. God het gesien dat Job sy geloof in Hom sou behou en derhalwe sou God hom dan uitermatig seën. Kom ons lees weer Jak 5: 11 en vereenselwig onsself met die betekenis van die woord einddoel.
Jak 5: 11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.
Nou gaan ons terug na Paulus se skrywe en vervang ons die woord einde met einddoel in Rom 10: 4, aangesien die woord ‘einddoel’ baie meer beskrywend en in lyn is met die griekse woord ‘telos’ wat dui op die bereiking van jou doel aan die einde van ‘n proses;
Rom 10: 4 Want Christus is die einddoel van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
Dit gee ‘n totaal ander betekenis aan hierdie skrif, of anders gestel, met die lees hiervan verander dit ‘n mens se eerste oortuiging of verstaan van hierdie skrif. Yahuwsha is nie nou die einde van die wet nie, of te wel die opheffing van die wet nie, maar Hy is die einddoel van die wet. Die wet van God is die padkaart om jou by jou eindbestemming te bring wat Yahuwsha is; dit is die doel van die wet. Hierdie is maar die eerste tree om hierdie skrif reg te verstaan. Die volgende tree bring verdere duidelikheid en Waarheid. Kom ons kyk hoe lees Rom 10: 4 in die Polyglot Septuagint;
Rom 10: 4 For Christ is the end for righteousness of the law to everyone believing.
Vertaal ons dit in Afrikaans dan lees dit as volg:
Rom 10: 4 Want Christus is die einddoel tot geregtigheid van die wet vir elkeen wat glo.
Die ‘prentjie’ verander nou verder. Yahuwsha is die bestemming (of einddoel) sodat jy tot bekering, of geregtigheid, kan kom en in geregtigheid kan staan teenoor God en die wet (wat Yahuwsha is, want Hy is die Woord wat vlees geword het). Hoekom is dit nodig dat ons in geregtigheid, of onskuldig, teenoor die wet moet staan? Die rede hiervoor is dat oortreding van die wet die vloek van die wet meebring. Yahuwsha het dit egter op Homself geneem sodat ons nie meer onder die vloek van die wet (wat ons wetlik toekom) hoef te wees nie.
Gal 3: 13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
Ons is losgekoop van die vloek van die wet; ons is nie losgekoop van die wet nie. As ons losgekoop was van die wet dan is daar geen riglyn meer waarvolgens ons moet lewe nie, en as daar geen riglyn is nie dan is daar niks waarteen ons kan sondig nie en hoef ons niks te belei nie. Dit is egter nie die geval nie.
1 Joh 1: 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Johannes skryf hier vir ons dat ons ons sondes moet belei en wanneer ons dit doen dan sal Hy ons vergewe en word ons gereinig van alle ongeregtigheid. Watter sonde moet ons belei, en van watter ongeregtigheid word ons gereinig? Wat is die maatstaf? Paulus maak dit vir ons baie duidelik.
Rom 3: 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Deur die wet is die kennis van sonde; dit is die maatstaf. Wanneer ons God se voorskrifte oortree is daar vir ons vergifnis deur dit wat Yahuwsha vir ons gedoen het. Die verbond, wat God met Abraham gesluit het deur tussen die geslagte diere deur te beweeg, wat die nageslag van Abraham verbreek het deur van Sy wet (voorskrifte) af te wyk, het genoodsaak dat Yahuwsha moes sterf. Die ongeregtigheid van die nageslag van Abraham, wat jou en my insluit, is die beweegrede vir die sterwe (en opstanding) van Yahuwsha ten einde die dood te oorwin sodat ons weer in geregtigheid voor Hom kan staan. Ons sonde, wat die oortreding van die wet (Sy voorskrifte) is, het Hy op Homself geneem en kan die vloek van die wet nie meer op ons voltrek word nie. Ons kan egter nie nou tot bekering kom, vergifnis ontvang en dan aanhou leef soos wat ons geleef het nie, nee, die (huweliks)verbond is nou hernu of vernuwe.
Die implikasie hiervan is dat die volk van God (die huise van Israel en Juda) wat in die verstrooiing is nou weer terug kan gaan na God as gevolg van die prys wat Yahuwsha betaal het. Dis dan presies waarom beide Jakobus en Petrus hul briewe rig aan die stamme van die volk van God wat in die verstrooiing is om hierdie blye boodskap aan hulle te bring (in gehoorsaamheid aan die opdrag van Yahuwsha; Mat 10: 5, 6 & 15:24), en sien ons dit in die heel eerste vers van beide die briewe wat hulle geskryf het.
Jak 1: 1 Jakobus, ‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete!
1 Pet 1: 1 Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië,
Jakobus en Petrus was gehoorsaam aan Yahuwsha se opdrag om die blye boodskap te neem na die verlore skape wat in die verstrooiing is.
Mat 10: 5, 6 Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.
Mat 15: 24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.
Hierdie verlore skape van die huis van Israel wat in die verstrooiing is gaan hul ware identiteit raaksien, hul ongeregtigheid/sonde bely, gedoop word, die wet van Yahuwah op hul harte laat skryf, en hulself herenig met hul God en Bruidegom. Hulle gaan vanuit die verstrooiing uitkom en die verbondsland (hetsy fisies en/of geestelik), wat God nog altyd vir hulle in gedagte gehad het, betrek.
Onthou dat die dwaling van die huis van Israel (Efraim) veroorsaak het dat die heidene nou vol geword het, te wete die volheid van die heidene (the ‘fullness of the gentiles’). Efraim en die ander heidennasies kan nou eerste in kom aangesien die eersgeboortereg, en die seën wat daarmee gepaard gaan, rus op Efraim. Daarna gaan die huis van Juda in kom. Hierdie verloop van sake is heeltemal in lyn met hoe Paulus dit uiteensit in sy brief aan die Romeine.
Rom 11: 8, 23 – 26 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. … Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was (ware heidene), en teen die natuur op die mak olyfboom (die volk van God) ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is (die verstrooides; die ‘nuwe’ heidene), op hul eie olyfboom ingeënt word? Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel (die Jode) gekom het totdat die volheid van die heidene (die ware en ‘nuwe’ heidene, of te wel Efraim) ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;
Die wat nie van nature deel was van die mak olyfboom nie, maar van die wilde olyfboom, kan op die mak olyfboom ingeënt word, en die wat van nature deel was van die mak olyfboom gaan weer daarop ingeënt word. So gaan die volheid van die heidene dan die koninkryk ingaan wat niks anders is as die hele Israel (wat verstrooi was) nie.
Hierdie herstelproses het begin met die eerste koms van die Messias (Yahuwsha). Hy het gekom deur die koningskaplyn (die stam van Juda). Die Messias het gekom as die Woord van God, want Hy is die Woord. Hy het die Woord kom leef soos wat dit bedoel was, en nie soos wat die huise van Israel (Efraim) en Juda (die Jode) dit verdraai en geïgnoreer het nie. In die ‘Nuwe Testament’ maak Johannes dit baie duidelik in watter kapasiteit/outoriteit Yahuwsha vlees geword het.
Joh 1: 14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon …
Die feit dat die Messias eendag sou kom word op talle plekke in die ‘Ou Testament’ geprofeteer. Dat Hy egter sou kom as die Woord, word nie net in die ‘Nuwe Testament’ vir ons bekend gemaak nie, maar ook in die ‘Ou Testament’.
Jes 9: 6 – 9 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen. Die HERE stuur ‘n woord in Jakob, en dit val in Israel; en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, …
Die Messias (die Kind wat vir ons gebore is) het inderdaad gekom deur die stamboom van Jakob, en meer spesifiek die stam van Juda. Hierdie koms (as Woord) sal deur die hele volk (en spesifiek Efraim) asook die ‘ware’ heidene (die inwoners van Samaria) waargeneem word. Jesaja 9 vers 8, dat Jesus as Woord sou kom (en gekom het), word deur ander vertalings van die Bybel as volg vertaal:
Jes 9: 8 The Lord sent a word into Jacob, and it hath lighted upon Israel. … (KJV)
Jes 9: 8 Yahweh has sent a word against Yahakob, and it will light upon Yisra’el. … (Memorial Torah Scroll)
Jes 9: 8 Yahweh sent a Word into Yaakov, and it has Lighted upon Yisrael. … (YATI)
Volgens hierdie drie vertalings is die Messias (Yahuwsha) nie net die Woord nie, maar ook die Lig. Hy het gekom as die Woord en as die Lig vir die verstrooides van Jakob/Israel.
Jer 49: 1 – 6 Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem. En Hy het my mond gemaak soos ‘n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My ‘n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek; en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik. … En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word – en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte – Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
Yahuwsha, as Kneg van God, gaan die stamme van Jakob weer oprig om hulle terug te bring (die wat verstrooi is), maar ook as Lig van die nasies om die ware heidene ook in te bring as deel van die koninkryk. Hierdie profesie dat die Messias (die Kneg) die Lig van die wêreld is, word deur Homself bevestig in die ‘Nuwe Testament’.
Joh 8: 12 En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.
Joh 9: 5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
Ons sien dus telkens dat die profesië in die ‘Ou Testament’ bevestig word in die ‘Nuwe Testament’. Die Messias het gekom as Woord en Lig ten einde Sy volk (Efraim en Juda), asook die ware heidene, te versamel vanuit die nasies en in lyn te bring met die Woord, want God gaan sy Woord, verbond en beloftes nakom.
Ps 106: 47 Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u
lof!
Amo 9: 9, 15 Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in ‘n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie. … En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.
Eseg 28: 25 So sê die Here HERE: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het.
Eseg 37: 15 – 28 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: En jy, mensekind, neem vir jou ‘n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ‘n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand. En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie? sê dan vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand. So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë; en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ‘n volk wees, en Ek vir hulle ‘n God wees. En
my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.
Onder die koningskap van Salomo het God die volk in twee geskeur, die tien noordelike stamme (die huis van Israel/Efraim) en die twee suidelike stamme (die huis van Juda). Ons sien egter in bogenoemde gedeelte dat God aan Esegiël meegedeel het dat Hy weer die twee huise een volk gaan maak, want dit is Sy wil en plan. Hy wyk nie af van Sy oorspronklike plan nie.
Hos 1: 10, 11 Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie – sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!
Jes 11: 10 – 13 En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees. En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde. Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.
Bogenoemde skrifgedeeltes maak dit baie duidelik dat Yahuwah vir die tweede keer sy hand gaan uitsteek, net soos wat hy die volk verlos het van hul slawedrywers in Egipte, om die oorblyfsel van Sy volk los te koop. Nie net gaan Hy hulle los koop nie, maar die suidelike stamme (Juda en Benjamin) en die noordelike stamme (Efraim) gaan weer een volk wees. Efraim gaan versamel word vanuit die nasies deur God en gaan die koningskaplyn (Juda en Benjamin) herenig word met die eersgeboortereglyn (Efraim) om weer een volk te wees onder die leierskap van Yahuwsha, die Seun van Dawid. Net soos wat ons opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees, sal ons in die eerste plek nie soseer ‘n fisiese land betrek nie, maar eerder ‘n geestelike land.
Ons almal ken God as die God wat Israel uit Egipteland gelei het na die beloofde land, die verbondsland. Hulle het dit egter verloor as gevolg van hul sonde teen Sy gebooie, insettinge en verordeninge, oftewel oortreding van Sy Woord/Wet. Wat ongelooflik is, is dat iets baie groter as die uittrek van die volk uit Egipte binnekort gaan gebeur (en eintlik reeds aan die gebeur is). Die fisiese trek uit Egipte wys heen na ‘n geestelike trek van die volk (Efraim en Juda) uit die huidige wêreldsisteemterug na God en Sy Woord. God sal nie meer geken word as die God wat Israel uit Egipte gelei het nie, maar as die God wat die huis van Israel teruggebring het na die beloofde land (fisies en/of geestelik) en die huis van Israel herenig het met die huis van Juda (die Jode).
Jer 3: 18 In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.
Jer 16: 14 – 16 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie; maar: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het. Kyk, Ek stuur baie vissers, spreek die HERE, wat hulle sal vang, en daarna sal Ek baie jagters stuur wat hulle sal opjaag, van elke berg en van elke heuwel en uit die klipskeure.
Jer 23: 3 – 8 En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, enhulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die HERE. Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die HERE leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie, maar: So waar as die HERE leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.
Hoe ongelooflik is dit nie. ‘n Gebeurtenis groter as die trek van die volk uit Egipte gaan plaasvind, en is dit reeds aan die gebeur. Die volk (Efraim en Juda) gaan terugkeer na God en Sy Woord, Sy wette/gebooie op hul harte laat skryf en so weer die beloofde land (fisies en/of geestelik) wat aan Abraham beloof is betrek en bewoon. Die verbond wat God met Abraham gesluit het gaan Hy hou. Hy wyk nie af van Sy plan nie.
Ons kan onsself nou tereg die volgende vraag afvra, ‘het net die skape van die huis van Israel toegang tot die Vader deur die prys wat Yahuwsha betaal het?’ Die antwoord is onteenseglik nee, hoegenaamd nie. Dit is die wil van God dat (1) alle mense Hom vrees en Sy gebooie hou, en (2) dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Pred 12: 13 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: VreesGod en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.
1 Tim 2: 3, 4 … God, ons Verlosser, … wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Dit is so aangesien Hy die mens gemaak het om verhouding met die mens te hê en uit een bloed het Hy al die nasies gemaak wat oor die hele aarde woon.
Hand 17: 26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
In die tyd van Yahuwsha (op aarde) het die Jode egter nie met heidene omgegaan nie aangesien hulle die heidene as onrein geag het en nie met enigiets wat onrein was geassosieer wou wees nie. Yahuwsha het hulle egter gewys dat selfs die heidene toegang tot die Vader het deur die prys wat Hy betaal het.
Hand 11: 1 – 18 En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het. En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet. En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ‘n verrukking van sinne het ek ‘n gesig gesien: ‘n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ‘n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van dieaarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. En ek hoor ‘n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man
ingegaan. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.
Hierdie gesig wat God aan Petrus getoon het het niks te doen gehad met voedsel en die kwansuise rein verklaring van diere (as voedsel) wat deur Hom as onrein verklaar is in Levitikus 11 nie. Lees weer die skrywe getiteld ‘Voedselvoorskrifte’ wat breedvoerig hieroor handel. Nee, hierdie gesig was ‘n gelykenis en is ‘n gelykenis altyd beeldspraak wat ‘n dieper betekenis inhou. Yahuwsha het altyd die mense en sy dissipels geleer deur gelykenisse, wat soms vir hulle moeilik was om te verstaan. In die oë van die Jode was die heidene ‘onrein honde’ en moes hulle hulself nie onrein maak deur met honde/heidene om te gaan nie. Petrus het dit raakgesien en geweet dat dit ‘n gelykenis was en dit so aan die gelowige Jode in Jerusalem gedeel.
Hand 10: 28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.
So het die heidene, wat nie deel isvan die huise van Israel en Juda nie, dan nou ook toegang tot die Vader deur die prys/offer van Yahuwsha as Lam van God. Dat die heidene as honde geag is in die oë van die Jode is duidelik vanuit die skrywes van Mattheus en Markus wat dieselfde gebeurtenis met ons deel. Hierin verwys selfs Yahuwsha na die heidene as ‘hondjies’ en dat die kinders eers moet eet alvorens die ‘hondjies’ kan eet.
Mat 15: 21 – 28 En Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek. En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel
besete. Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die
hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem vandie krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
Mar 7: 24 – 30 En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie. Want ‘n vrou wie se dogtertjie ‘n onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval. En sy was ‘n Griekse vrou, ‘n Siro-Feniciese van geboorte, en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te dryf. Maar Jesus sê vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie. En sy antwoord en sê vir Hom: Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels. En Hy sê vir haar: Ter wille van hierdie woord kan jy gaan; die duiwel het uit jou dogter uitgevaar. En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê.
Dit is baie duidelik; daar is hulp en verlossing ook vir die heidene (die hondjies). Yahuwsha se bediening was egter eers vir die verlore skape (die kinders) van die huise van Israel en Juda, maar terselfdertyd gaan die heidene (die hondjies) ook eet en versadig word. Paulus het dit ook so aan die Jode meegedeel, dat die woord van God eers aan Israel verkondig moes word, maar aangesien hulle dit geweier het is dit toe na die heidene geneem.
Hand 13: 44 – 47 En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.
Paulus en Bárnabas maak dit baie duidelik dat dit noodsaaklik was dat die woord van God eers aan die Jode verkondig moes word, weens die wetlike/kontraktuele vereiste van die verbond wat God gesluit het met Abraham en sy nageslag. Daarna word die ‘brood’ (die woord) gedeel met die heidene (die hondjies). Paulus en Bárnabas haal hier ‘n gedeelte van die Ou Testament aan (by monde van Jesaja) waarin God dit duidelik stel dat dit ‘te gering’ is dat Yahuwsha, Sy Kneg, net die stamme van Jakob weer gaan oprig, maar dat Hy ‘n lig gaan wees vir al die nasies tot redding aan die einde van die aarde.
Jes 49: 5, 6 En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word—en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte— Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
Yahuwsha se werk as Lam van God was deel van ‘n verbondsvereiste wat dit moontlik maak dat almal, die kinders van die verstrooide stamme van Jakob, asook die heidene, nou deur Hom weer in verhouding kan staan met God die Vader. Dit is liefde.